19.08.2010 Lutherse kerkleier pleit teen skeuring
SLOERENDE verdeeldheid in die Evangeliese Lutherse Kerk van Namibië (ELCRN) wat selfs deur karakterskending en rugstekery onder die kerkleiers gekenmerk is, is verby die punt waar dit verbloem kan word.
Die euwels binne die hoogste gesag wat ook nou die gewone lidmate by hul verskille ingesleep het, het die voorsitter van die ELCRN-sinode genoop om in ’n persverklaring veral die leiers en lede van die kerk tot orde te roep.
Die dreigende tweespalt in ELCRN het die laagtepunt bereik waar verskille binne die kerkgeledere, hoofsaaklik onder die kerkleiers, onversoenbaar voorkom.
Pastoor Willem Pieters, die wettig gekose voorsitter van die ELCRN-sinode, sê in sy boodskap dat die kerk tans ’n baie moeilike tyd van meningsverskille deurgaan, wat deur wantroue en finansiële uitdagings vererger is.
“Dit is hartverskeurend om te noem dat briewe en teksboodskappe onder lidmate en kerkleiers versprei word wat haat, verdeeldheid en karakterskending bevorder.
“Ek sien dit as van kardinale belang om al die lede van die kerk te vra om vir hierdie waardevolle kerk en sy erfenis te bid. Ek versoek almal om die gees van eienaarskap, bemagtiging en herlewing te bevorder,” het pastoor Pieters gevra.
Hy het voorts ’n versoek tot elkeen in die verskillende leiersposisies van die kerk gerig om saam te werk om die kultuur van eenheid, vrede en versoening te bevorder.
Past. Pieters het gesê van volwasse leiers word verwag om oop en reguit met mekaar te praat, sonder om agter die onskuldige pensioenarisse en lidmate te skuil. Volgens hom is dit baie skandelik dat hul tyd van bediening deur naamnoemery en rugstekery gekenmerk is.
“Ek het as voorsitter van die sinode geen behae daarin om die ELCRN en sy leiers seer te maak of te vernietig nie.
“Ek het afskrifte van briewe en voorstelle wat ek gemaak het, so vroeg as in Desember verlede jaar. Dokumente waarin versoek word om die ongesonde situasie binne die kerk aan te spreek. Voorts het ek briewe geskryf rakende besluite wat ons tydens die Sinode in 2009 geneem het. Ek het aan mosies wat aan my gegee was, gewerk en verslag daaroor gedoen (sien artikel 18.6 van die ELCRN se Grondwet),” lui die skrywe.
“Ons is gelyke dogters en seuns van God (Gal. 3.28) wat geroep is om verenig te wees (Joh. 17:20). Laat ons voortgaan om waaksaam te wees en vir ons kerk te bid. Laat ons nie misbruik word deur sekere leiers teenoor ander leiers nie. Ek wil hê dat ons leiers hul maskers moet verwyder en met mekaar moet praat. Laat ons nie respek en erkenning probeer afdwing terwyl ons nie die ander respekteer nie. Laat ons aan die ander doen soos ons ook aan ons gedoen wil hê (Matt. 7:12).”
Voorts sê past. Pieters hy staan gereed vir vrae en kritiek soos wat dit ’n leier betaam. Hy belowe dat hy voorts ten nouste gaan saamwerk met sy twee adjunkvoorsitters in die sinode. “Ek wil die Grondwet gehoorsaam, insluitend die besluite wat verlede jaar tydens die sinode geneem is.”
Ten slotte sê past. Pieters dat een van sy adjunkte tans besig is om sonder sy medewete die gemeentes landwyd te besoek. “Waar gaan ons eindig?” het hy gevra.
|