15.12.2009 Lugvaart kry uitstalkans in Perth
’n GROOT eer en opregte erkenning vir baie jare se geloof in die DC-6B van Namibia Commercial Aviation het Namibiese lugvaart te beurt geval in ’n tyd waarop die plaaslike lugvaartbedryf allerweë as in sy donkerste uur bestempel word.
Die Bateleur – die enigste DC-6B in die wêreld wat steeds vir han- delsvlugte ingespan word – moet in Maart en April 2011 deelneem aan die lugvaart-eeufeesvieringe van die Australiese regering en die Bateleur sal by lugskoue by al die groot stede in dié land te sien wees.
Met ’n sterk afvaardiging van die Internasionale Burgerlike Lugvaartorganisasie (ICOA) wat vir nog minstens ’n jaar in Namibië sal wees om lugvaart te probeer orden en die Namibiese lugweë weer ’n veilige plek te maak ná ’n rits ongelukke wat die bedryf geskud het, is hierdie nie net ’n eer nie, maar ’n goeie geleentheid om die plaaslike bedryf op die kaart te plaas en ’n versekering van vermoë te gee.
Dit gaan op die oomblik nie finansieel goed met die bedryf nie en toerismegetalle het geduik vanweë interne lugvaartvrese en die wêreldwye ekonomiese inkrimping.
Volgens die strydros van Namibiese lugvaart, mnr. Chris Schutte, is dit vir homself en sy geliefde Bateleur ’n besliste hoogtepunt in ’n leeftyd van lugvaart in hierdie land en alle ratte word geolie om die twee maande lange uitstappie moontlik te maak en Namibië se vlag groot in Australië ten toon te stel.
Borge word gesoek om die lugskip in Australië te kry, waar die meeste koste gedek sal word. Om die ou koningin van die lugweë egter in agt skofte oor die water in Australië te kry, kan maklik sowat N$1,6 miljoen se brandstof in vandag se geldwaardes kos. Bo die skaapplase van Australië sal aflosbemannings skof vir skof aantree.
Daar sal ook aan die Red Bull Air Race oor ’n tydperk van 14 dae deelgeneem word. Voor en na die tyd is dit die een lugskou na die ander en volgens mnr. Schutte het gekwalifiseerde vlieëniers al laat weet hulle stel belang.
Lugwaardinne uit die dae toe die Bateleur nog ’n kuiken was, sal glo heropleiding doen en weer vir ’n skof in die lug kom aanmeld. Die lugskou-toer skop in Perth af en dek die ganse Australië voor dit weer in Perth met die Red Bulllugresies eindig.
Tussendeur doen die Bateleur betaalde vlugte tussen die stede wat op die roete ingesluit is, soos Sydney, Melbourne, Brisbane, Perth, Avalon, Tamora en Darwin. Oral is die Bateleur ’n eregas by die skoue, sê mnr. Schutte.
NCA se DC6 word steeds plaaslik aangewend vir toerismevlugte oor Namibië se mooiste landskappe, terwyl dit ook van tyd tot tyd deur maatskappye gehuur word vir sakevlugte. Soms word selfs nog vrag met die ou grote aangevlieg.
In Australië sal die Bateleur saam met sy susterskip, die DC6 wat NCA aan Red Bull verkoop het, en verskeie ander vliegtuie uit alle tydperke aan ’n gedenkwaardige laaste lugvertoning op Perth deelneem.
Mnr. Schutte meen hierdie is ’n bemarkingsgeleentheid sonder gelyke vir NCA en die Bateleur en gesprekke is al aan die gang om geskikte borge of ’n enkele borg vir die geleentheid te vind.
|