Lucky, nuutste Namibiese rolprentster

DIE ster van die nuutste Volkswagen Golf 6-advertensie is Lucky, ’n jagluiperd wat net buite Windhoek op die N/a’an ku sê Wildskuiling woon nadat sy haar been vroeër vanjaar in ’n slagyster verloor het.

Die nuwe Golf-advertensie is geskryf oor ’n beseerde jagluiperd wat die sensasie van spoed in ’n Golf beleef. Voordat die advertensie egter ’n werklikheid kon word, moes ’n ster vir die rol gevind word en die Oscar-benoemde regisseur Henry Alex Rubin het sy ster vir die advertensie net hier in Namibië opgespoor.

Dié beroemde regisseur is die taak gegee om na Namibië te vlieg om sy ster vir die advertensie te vind en op die N/a’an ku sê Wildskuiling kry hy toe vir Lucky. N/a’an ku sê help om beseerde en verlate diere terug in die wildlewe te rehabiliteer.

Lucky, wat nou 10 maande oud is, is in Januarie deur ’n boer gevind toe sy in ’n slagyster getrap het. Die boer het Marlice van Vuuren, eienaar van N/a’an ku sê, gekontak wat die dier na ’n veearts geneem het.

Lucky se been moes afgesit word aangesien omvattende skade opgedoen is. Die naam Lucky is aan die jagluiperd gegee aangesien sy so gelukkig was om te leef nadat sy in die slagyster getrap het.
Die verhaal van Lucky het die regisseur van die advertensie se verbeelding aangegryp en nie lank daarna nie het ’n opgewonde span met sowat 30 lede in Maart by die N/a’an ku sê Wildskuiling die advertensie verfilm.

Die span het uit die produksiemaatskappy Gatehouse Commercials, die agentskap Ogilvy Cape Town en die kliënt Volkswagen bestaan. Volgens Marlice was Lucky reg vir sy rol in die advertensie toe verfilming op 22 Maart begin het, hoewel sy eers ’n bietjie huiwerig voor die kameras was. Marlice en selfs die bobbejane en honde op die wildtuiste het ’n rol in die advertensie saam met Lucky gekry.

“N/a’an ku sê is verheug om deel aan die advertensie te kon hê en sien uit daarna om ’n vennootskap met Volkswagen te ontwikkel om ’n verskil in die lewens van diere te maak en die mense wat hulle help.”

Marlice sê sy het die verfilming baie geniet en is bly vir die geleentheid om die publiek van hul bewaringspogings bewus te maak. N/a’an ku sê is sowat twee jaar gelede deur Marlice en haar man, Rudie, net buite die hoofstad gestig en huisves onder meer bobbejane, leeus, jagluiperds en luiperds.

Die nuwe Volkswagen Golf 6- advertensie het dié maand die eerste maal op TV verskyn.