8.03.2010 Libby neem afskeid op Uitkomst
 Die Adjunkpremier, dr. Libertina Amathila, wys na ’n trop van 56 bokke wat aan die hervestigde San-mense op die plaas Uitkomst naby Otjizondo geskenk is.
DIE sosioëkonomiese ontwikkeling van ’n groep San-mense wat op die plaas Uitkomst naby Otjizondo hervestig is, het ’n hupstoot in die vorm van ’n skenking van kleinvee gekry. Die Ministerie van Landbou het 56 bokke wat op die navorsingsplaas met dieselfde naam geteel is, aan die gemeenskap geskenk. ’n Trustfonds vir die verdere ontwikkeling van die gemeenskap is terselfdertyd gestig.
Die Adjunkpremier, dr. Libertina Amathila, het Vrydag tydens die oorhandiging van die bokke gesê die groep hervestigdes moet die geleentheid wat aan hulle gebied is, aangryp en sorg dat hulle deur harde werk ’n sukses van die projek maak. Streng beheer word oor die gemeenskap uitgevoer om te verseker dat die ontwikkelingsgeleentheid wat in hul hande geplaas is, ’n sukses sal wees.
Die lot van die San, wat tradisioneel min of geen toegang tot sosioëkonomiese ontwikkelingsprogramme gehad het nie, lê dr. Amathila na aan die hart. Sy het onverpoosd gewerk om ’n groep van sowat 350 van die San-mense uit die kloue van uiterste armoede en verval te red.
Die hervestiging van die groep op die plaas Uitkomst het gedurende Augustus verlede jaar gestalte aan haar passie vir die program gegee. Alkohol word onder geen omstandighede op die plaas toegelaat nie en die misbruik van veral die vroue en jong meisies van die gemeenskap word met die strengste moontlike optrede verhoed.
Dit is egter nie die eerste keer dat ’n groep verdrukte mense ’n veilige hawe deur die toedoen van dr. Amathila se gevoel vir regverdigheid kry nie. ’n Groep bekend as die Ovatue was in die Kunene-streek so gemarginaliseer dat baie min mense van hul bestaan bewus was. Die groep is verwant aan die meer bekende Ovahimba-bevolkingsgroep en het in die berge gewoon en van wilde vrugte en bessies oorleef omdat hulle deur ander mense verjaag is.
Die Ovatue en ’n ander groep verdruktes, die Ovashimba, is intussen in drie nuwe nedersettings hervestig en is reeds besig om die vrugte van die ontwikkelingsprogram te pluk. Volgens dr. Amathila het die hervestiging van hierdie kwesbare mense daartoe gelei dat die getalle van die verskillende gemeenskappe gegroei het en dat die skole wat aanvanklik gebou is, byna nie meer in die aanvraag na opvoeding kan voorsien nie.
Tydens Vrydag se oorhandigingseremonie het dr. Amathila aangekondig dat elke persoon wat aanvanklik ’n huis ontvang het, nou ook ’n sertifikaat van eienaarskap ontvang. Sy het egter gemaan dat die hervestigde mense onder geen omstandighede toegelaat sal word om die huise te verkoop nie. Die geld wat die gemeenskap uit die verkoop van gras en ander skenkings kry, word gestort in die trustfonds wat op die been gebring is om mettertyd ander ontwikkelingsprojekte te finansier.
Die plaas is in 2006 aan die Regering verkoop en sedert die begin van 2008 is die groep San-mense daar gevestig. Hulle het eers in tente gewoon, maar onverpoosde werk deur dr. Amathila en ’n handjievol ander toegewyde mense van die gemeenskap het op 32 netjies huise met toiletgeriewe, ’n kliniek en ’n skool met behuising vir onderwysers en verpleegsters op die plaas uitgeloop.
Die oprigting van die geboue en geriewe is gedeeltelik deur die Regering gefinansier, terwyl verskeie private individue en sakeondernemings tot die poging bygedra het. President Hifikepunye Pohamba het verlede jaar die huise, skool en kliniek wat vir die gemeenskap op die plaas opgerig is, amptelik aan die San-mense oorhandig en gesê die Namibiese nasie moet ekonomiese ongelykheid as ’n saak van dringendheid benader en oplos.
’n Tradisionele leier van die gemeenskap, me. Sofia Jacob, het gesê die mense moet die bokke en beeste wat aan hulle geskenk is, oppas en versorg sodat hulle nie meer as agtergeblewenes beskou hoef te word nie
“Ons was te lank agter die bosse. Dit is tyd dat ons ons plek in die nasie volstaan.” Benewens die bokke het ’n plaaslike beesprodusent ook twee Brahmaan-verse aan die gemeenskap geskenk. Dr. Amathila het ’n bokram uit haar eie kudde en President Pohamba ’n melkbees aan die gemeenskap geskenk.
|