4.09.2009 Leiersonmin by kookpunt
URE voor die waterskeidingskieskollege en met die Swapoikoon, mnr. Sam Nujoma, wat in ’n hospitaal op Walvisbaai aansterk, is die faksies van die regerende party vir die kies van kandidate vir die Nasionale Vergadering hard besig om steun te werf om te verseker dat hulle wel op die partylys kom.
Terselfdertyd word ’n lys van die uitverkorenes saamgestel waarop name van heelwat van die huidige senior Swapo-leiers nie verskyn nie, insluitend die van die Premier, mnr. Nahas Angula.
Die Ndonga’s wat die kieskollege bywoon wat na verwagting vanmiddag sal afskop, gaan nou glo ’n blok vorm om ten ministe vir die Eerste Minister hoog op die lys te probeer kry.
Die ander Ndonga’s wat hard sal moet baklei om weer in die parlement te eindig, is die Minister van Werke en Vervoer, mnr. Helmut Angula, die Minister van Veiligheid en Sekuriteit, dr. Nickey Iyambo, die Adjunkminister van Grond en Hervestiging, mnr. Henock ya Kasita en mnr. Peya Muselenga wat ’n Swapo NVlid is.
“Almal baklei om hul name op hierdie lys te kry, want hulle weet dat dit ’n invloed op die stemmery sal uitoefen net soos die geval met die ’imperialiste’-lys was. Hierdie keer is die lys met die name op van diegene wat op Swapo se partylys moet kom.”
Mnr. Nujoma is onder groot geheimhouding op Walvisbaai in die hospitaal opgeneem nadat hy reeds glo tydens die Ongwediva Handelskou nie goed gevoel het nie. Sommige van die Swapoleiers wat weet dat die skrif vir hulle aan die muur is, het hulle glo tot die Vader van die Nasie gewend om vir hulle as reddingsgordel te dien.
“Mnr. Pohamba kan net tien op sy lys plaas en diegene van die ouer garde wat dit nie gaan haal nie, is veel meer. Daarom het sommige van hulle na mnr. Nujoma gehardloop omdat hulle weet dat hy nog invloed in die party het. Hy het egter geweier om sommige te woord te staan,” het ’n senior Swapo-leier gesê.
Die politburo het ook opdrag gegee dat streekraadslede wat deur die onderskeie streke genomineer is, gediskwalifiseer word aangesien hul verkiesing tot die kandidatelys sal beteken dat tussenverkiesings gehou moet word wat die staat baie geld sal kos. Streekraadslede wat deur een van Swapo se vleuels genomineer is, kan wel vir die kandidatelys staan.
Die termyn van die streekraadslede loop einde volgende jaar ten einde. Die afgelope week was op ’n daaglikse grondslag vergaderings gehou waar strategieë vir die waterskeidingskieskollege beplan is.
Hierdie vergaderings het tot laat gisternag voortgeduur en die verwagting is dat die laastes daarvan nog teen vanoggend sal plaasvind.
Die verkiesing vind môre plaas en teen Sondag behoort die kandidatelys bekendgemaak te word.
Hoofredaksie
|