Leiers moet woorde mooi kies

In ?n telefoniese onderhoud met Republikein uit Swede het Melber sy mening gelug oor die President se stellings tydens die herdenking van die slag van Cassinga.

Op gister se voorblad van Republikein het die RDP die President daarvan beskuldig dat hy ?n wig tussen die verskillende volke van Namibië indryf. Op dieselfde bladsy was oudpresident Sam Nujoma in die nuus onder die opskrif ?Nujoma klap na wit boere?.

?Toe hulle my gevra het of die Koevoete en daardie mense vir die veterane- uitbetaling kwalifiseer, het ek gesê: Oor my dooie liggaam!? het Pohamba die naweek by die UN Plaza in Katutura gesê.

?Ons Regering se beleid van grondhervorming is deur sommige wittes gesaboteer,? het Nujoma laat hoor.

Met die komende Swapo-kongres en die 2014 verkiesing sal hierdie soort praatjies meer algemeen raak, meen politieke ontleders.

?Namibië beweeg nou na ?n verkiesingstydperk met Swapo wat teen Desember sy volgende presidentskandidaat bekend sal stel,? het Melber gesê.

Pohamba se Cassinga-opruiing en Nujoma se woorde oor grondonteiening kan gesien word as kwessies wat by die meerderheid van die nasie aanklank vind.

?As wat ek hoor, waar is, herinner hierdie optrede my aan Kazenambo Kazenambo (die omstrede Minister van Jeug, Nasionale Diens, Sport en Kultuur) en Mugabe.?

Melber meen as Koevoet en ander vegters ?aan die ander kant? van die oorlog nie as veterane ingesluit is nie, moet alle veterane en politici wat menseregte geskend het, gediskwalifiseer word.

?Hulle het soortgelyke gruweldade gepleeg. Die voormalige aangehoudenes sal definitief ?n lys kan saamstel van diegene wat menseregte geskend het deur teregstellings, verkragting en moord deur verwaarlosing.

?Dubbele standaarde vier dus hoogty. Slegs die gruweldade van een kant word erken, terwyl die in eie geledere geïgnoreer word.?

Volgens hom probeer die land se seniors die status van ?tate kulus? verdien en ook steeds aansien van ?die rewolusionêres? geniet.

?Dobbel met die fasade van Nasionale Versoening?

?Die President dobbel met die fasade van Nasionale Versoening. Hy speel met emosies wat baie moeilik weer vergeet sal word.?

Melber het bygevoeg dat Pohamba se optrede nie verskil van die voorheen gereelde uitbarstings van Nujoma nie en net soos die oudpresident was daar geen opvolgkommentaar van Pohamba se kant nie.

?Ek hoop van harte die RDP is verkeerd en Pohamba het net ?n emosionele uitbarsting gehad.?

Die politieke ontleder prof. Bill Lindeke sien die saak anders as Melber.

?Cassinga-dag is ?n baie sensitiewe aangeleentheid en ek sou nie te veel in Pohamba se opmerkings lees nie,? het die professor gesê.

Hy het gesê dieselfde praatjies het die rondte gedoen toe ?n nuwe kandidaat in 2003 verkies moes word.

?Almal voel nou die politiek,? het Lindeke gesê.

Hy meen die Regering beweeg wel vorentoe, maar die implementering van beleid bly een van die grootste kwessies. Hy is positief daaroor dat voormalige Namibiese soldate wat vir Suid-Afrika geveg het, in die toekoms vergoed sal word.

?In Suid-Afrika is hulle bewus dat diegene wat in die oorlog geveg het, onder geweldige druk van die regering was. Ek is oortuig dat ons Regering dit mettertyd sal insien.?