18.03.2010 Laaste sitting van Kabinet
 Die Kabinet van die vierde Regering van Namibië het gister vir die laaste keer ontmoet. ’n Ampelike foto is na afloop van die afsluiting by die nuwe Staatshuis geneem.
LEDE van die Kabinet van die vierde Namibiese regering het gister vir die laaste keer vergader.
By die geleentheid het Pres. Hifikepunye Pohamba Kabinetslede herinner aan hul eerste vergadering op 31 Maart 2005 in die Kabinetvergadersaal in die Kantoor van die Eerste Minister, waar die sakelys vir die nuwe Regering uitgespel is.
Hy het die Eerste Minister Nahas Angula, die Adjunkpremier, dr. Libertine Amathila, en al die Ministers bedank vir hul ondersteuning die afgelope vyf jaar.
’n Minuut se stilte is ook gehou ter nagedagtenis aan mnr. John Pandeni, voormalige minister van Streek en Plaaslike Owerheid, Behuising en Landelike Ontwikkeling, wat in Maart 2008 in ’n motorongeluk naby Grootfontein gesterf het.
Die feit dat die afsluiting van dié Kabinet in die nuwe vergadersaal in die nuwe Staatshuis plaasvind, is volgens Pres. Pohamba ’n teken van hoe die land vordering maak op die pad na die verwesentliking van nasionale ontwikkelingsdoelwitte.
“As ons terugkyk, verby die laaste halwe dekade, is ons trots dat ons land voortgegaan het om vrede, stabiliteit en veiligheid te geniet en regeer word volgens die grondwetlike raamwerk wat met onafhanklikwording, 20 jaar gelede aanvaar is.
“Die implementering van die Regering se programme het sonder onderbreking voortgegaan en ons demokratiese instellings het sterker geword. Tog is daar nog heelwat uitdagings en die werk vereis toewyding en ’n vaste verbintenis,” het Pres. Pohamba gesê.
Hy het ook op positiewe resultate in verskillende velde gewys. Die Groenskema het momentum gekry en verskeie landbouprojekte is goeie oeste opgelewer. Die Kalimbeza rysprojek is aan die gang, padkonstruksieprojekte is voltooi en ander is aan die gang. Klinieke en gesondheidsentrums is in verskillende dele van die land gebou.
In die afgelope vyf jaar het Namibië met welslae uitbreking van siektes soos polio, cholera, masels en varkgriep beheer, en die stryd teen MIV/vigs toon vordering. Skole is gebou en sommige bestaande skole is opgeknap. Van die 107 kiesafdelings in die land, beskik 102 reeds oor kiesafdeling kantore, wat die Regering nader aan die mense bring.
Welslae is ook behaal op die gebied van regstreekse buitelandse beleggings met die gevolg dat ’n moderne Old Mutual gebou besig is om in Windhoek se middestad te verrys, nuwe uraanmyne in die land geopen word, die Ohorongo sementaanleg naby Otavi van die grond af gekom het en eksplorasie van olie, gas en minerale voortduur.
Pres. Pohamba het ook verwys na beleggings van die plaaslike private sektor soos die super suiwelplaas naby Mariental, die Windhoek Hilton Hotel en beleggings deur verskeie maatskappye in die visserysektor.
Die toerismesektor het gegroei en nuwe werkgeleenthede is geskep. Strategiese beleggings is ook gemaak aan die modernisering van paaie, spoorweë, lughawes, telekommunikasienetwerke en die nasionale kragnetwerk.
“Terwyl ons terugdink aan die werk van die Regering die afgelope vyf jaar, moet ons bewus wees dat die taak van nasiebou moet voortgaan.
“Diegene wat in die nuwe Kabinet sal dien, moet gereed wees vir die taak om die mense te dien sodat uitdagings soos armoede en werkloosheid aangepak kan word en openbare dienste aan ons mense wat dit die nodigste het, uitgebrei kan word. Ek sien met vertroue uit daarna dat ons land sal voortgaan om goeie vordering te maak soos ons die derde dekade van ons vryheid en onafhanklikheid binnegaan,” het Pres. Pohamba gesê.
|