20.11.2009 Laaste groot vergaderings
MET net ’n week oor voor Namibiërs volgende Vrydag en Saterdag na die stembus opruk, hou die meeste partye die naweek hul laaste groot politieke byeenkomste om kiesers te werf. Terwyl Swapo môre op Walvisbaai en Rehoboth kuier, hou die Rally for Democracy and Progress (RDP) ’n massavergadering in Windhoek wat om 13:00 by die sokkerstadion langs die Katatura landdroshof.
Die DTA hou môre vergaderings op Rehoboth, Opuwo en by Okamatapati, en Sondag op Okanguati naby Ruacana, op Walvisbaai en op Groot-Aub. Die CoD het vandag om 17:00 ’n byeenkoms op Stampriet en vergader môre om 15:00 op Gibeon en Opuwo. Sondag om 14:30 sal mnr. Ben Ulenga en ander leiers op die verhoog wees in ’n “Star Rally” wat om 14:30 by die VN Plaza in Katutura begin.
Die Republikeinse Party (RP) se mnr. Henk Mudge praat vandag om 14:00 weer op Katima Mulilo en sal Sondag om 14:00 by die Primęre Skool Auas in Katutura aan die woord wees. Die RP sluit sy veldtog Dinsdag af met ’n vergadering wat om 17:00 by die Omdel-speelgrond op Hentiesbaai begin.
Die UDF hou môre vanaf 12:00 ’n optog en vergadering by hul kantoor in Windhoek en verskuif Sondag na Gobabis, waar die toesprake om 14:00 by die Khomaninboom sal begin. Nudo is môre vanaf 14:00 by die Kasu-sokkerveld in Ghandiestraat, Katutura.
Die Democratic Party of Namibia (DPN) vergader môre om 14:00 onderdie Vredesboom op Rehoboth, terwyl die NDMC op dieselfde tyd ’n byeenkoms in Blikkiesdorp op Maltahöhe het. Die NDMC hou Sondag om 15:00 ’n vergadering in Mariental se gemeenskapsaal en sluit sy veldtog Maandag en Dinsdag met byeenkomste op Otjiwarongo en Khorixas af.
|