2.07.2009 Kwelvrae ná moord by hospitaal
’n TRONKBEWAARDER van Ondangwa, mnr. Festus Nghipangelwa, is Sondagaand grusaam deur ’n pasiënt in die Oshakati staatshospitaal vermoor in ’n voorval wat tot botsende verklarings deur die polisie en die gesondheidsdirektoraat gelei het.
Wyle Nghipangelwa het gevangenes bewaak wat in die hospitaal opgeneem is, toe ’n vermoedelik geestelik versteurde jongman, ene Mattie Monkenzi Bohitile (18), verpleegsters aangeval het.
Die oorledene het die verpleegsters te hulp gesnel, maar is self met ’n groot klip aangeval. Toe hy op die grond val, het die aanvaller hom herhaaldelik met ’n klip teen die kop geslaan wat tot sy dood gelei het.
Die aanvaller het die lyk tot by die ingang van die ongevalleeenheid gesleep waar hy met lykskending voortgegaan het. Die aanvaller het daarna die oorledene se dienspistool gevat, maar dit is hier waar die verklarings deur ooggetuies en die van die polisie en hospitaal-owerhede verskil.
Ooggetuies sê die aanvaller het die pistool aan die verpleegpersoneel oorhandig, maar die hospitaalowerhede se weergawe is dat die aanvaller die pistool gebruik het om “blindweg te skiet” en klippe te gooi. Daardeur het hy glo vensters en glasdeure van die ongevalle-eenheid asook ruite van verskeie geparkeerde voertuie beskadig.
“Polisiebeamptes aan diens in die ongevalle-eenheid was bewus van die ontvouende geweld en, hoewel bewapen, het hulle nie probeer om die geweldenaar onder bedwang te bring nie. Hulle het eerder verkies om weg te kruip,” het die hospitaal-owerheid in ’n verklaring gesê.
Die hoof van die polisie in die Oshana-streek, kommissaris Ndahangwapo Kashihakumwa, het hierdie weergawe verwerp.
“Die aanval was onverwags en daar was chaos met paniekbevange mense wat heen en weer gehardloop het. Polisiebeamptes het nie weggekruip nie, hulle was bloot versigtig in hul gebruik van vuurwapens omdat onskuldige mense in die proses beseer kon word,” het hy gesê.
Volgens hom is polisieversterkings dadelik na die toneel gestuur en die aanvaller is buite aksie gestel toe hy met twee geweerskote getref is. Volgens die polisie is die aanvaller tans in die intensiewesorgeenheid, maar die hospitaalowerheid sê hy is onder polisiebewaking in die psigiatriese saal.
Dit is selfs nie duidelik of die pasiënt geestelik versteurd of onder die invloed van medikasie was nie. Toe hy opgeneem is, wou verpleegsters hom na die psigiatriese saal neem, maar die familie het glo gevra dat hy eerder na saal 7 geneem word.
Die verpleegsters het toegegee, waarna die pasiënt sy aanval geloods het.
|