
Ebson Tumbireek (Kavari)
DIE drie mans wat teregstaan op die plaasmoord van die Kruger-egpaar naby Omaruru, moet op 25 Maart in die Windhoekse Hoërhof verskyn tydens voorverhore sodat ’n verhoordatum bepaal kan word.
Die vermeende moordenaar en hoofbeskuldigde, Ebson Tumbireek (Kavari), het vroeër vandeesmaand vanuit die selle op Omaruru ontsnap. ’n Paar dae na sy ontsnapping is Kavari glo wel deur polisielede gewaar, maar dit was donker en hy het weggehardloop en in die boswêreld die polisie ontglip. Hy is steeds soek.
Republikein het kort na die ontsnapping berig dat die bevelvoerder van die polisie in die Khomas-streek, komm. Festus Shilongo vir Kavari gewaarsku het: “Ek sal jou kry!”
Mnr. Jannie Kruger (81) en sy vrou Toets (75) is op 12 Maart verlede jaar in hul slaapkamer op die plaas Parry tussen Omaruru en Wilhelmstal doodgeskiet en die ganse land was diep geskok deur die tragiese moord op die geliefde boere-egpaar.
Kavari (29) se twee medebeskuldigdes, Raphael Kahinatjo (44) en Gabriël (Boetietjie) Uazua (31) het reeds Donderdag vlugtig tydens voorverhore in die Hoërhof verskyn, maar die saak is met ’n maand uitgestel omrede Kavari nog nie weer in hegtenis geneem is na sy ontsnapping nie. 'n Lasbrief is uitgereik vir sy inhegtenisneming.