25.07.2008 Kragnood lê op loer
KRAGONDERBREKINGS en beurtkrag is onverwags weens ’n tegniese probleem by die Koebergkernkragsentrale in Suid-Afrika ’n donker wolk bo die koppe van Namibiërs. Die nasionale elektrisiteitsvoorsiener het gister gewaarsku dat die kragkrisis in Suider-Afrika nog nie iets van die verlede is nie en het Namibiese verbruikers opnuut gemaan om elektrisiteit spaarsamig te gebruik.
Dié waarskuwing deur NamPower volg kort nadat Eskom vroeër vandeesweek sy verbruikers ingelig het oor moontlike onverwagse kragonderbrekings of beurtkrag nadat eenheid twee van die Koeberg-kernkragsentrale Maandag afgeskakel is. Dié eenheid wek 900 MW elektrisiteit op. Eskom moes die eenheid afskakel nadat ’n tegniese fout by die kragopwekkingsdeel van die kernkragsentrale ontstaan het.
Herstelwerk daaraan het Dinsdag begin en sal na verwagting drie weke duur. NamPower sê terwyl hy die situasie in Suid-Afrika op ’n uurlikse grondslag monitor, moet Namibiese verbruikers van hulle kant alles moontlik doen om nie krag onnodig te gebruik nie. NamPower doen ook ’n beroep op sy kliënte om elektriese toestelle soos lugverkoelers, warmwaterstelsels en swembadpompe af te skakel wanneer dit nie gebruik word nie.
Namibië is ’n netto invoerder van elektrisiteit en is vir sowat 50 persent van sy verbruik van Eskom afhanklik. Eskom wek 80 persent van die elektrisiteit in die streek op. NamPower het in Januarie vanjaar bekend gemaak dat die erge kragkrisis in Suid-Afrika vir ten minste die volgende drie jaar op Namibië ’n invloed gaan hê vanweë die land se afhanklikheid van Eskom.
Mnr. Paulinus Shilamba, NamPower se besturende direkteur, het gewaarsku dat verbruikers tot soveel as 20 persent op hul kragverbruik moet sny om kragonderbrekings te voorkom. Hoewel NamPower in daardie stadium ’n beurtkragskedule vir die land opgestel het, was dit nog nie nodig om dit te implementeer nie.
Prof. Louis Grobler, ’n voorste energiebestuur-kenner in Suid- Afrika wat Namibiërs onlangs in Windhoek oor kragbesparing toegespreek het, sê Suider- Afrika het weens die relatief goedkoop elektrisiteit waarop hy tot dusver kon staatmaak in ’n gemaksone verval waar ondernemers en huishoudings nie aandag aan kragbesparing skenk nie.
Volgens hom gebruik lande in die streek drie keer soveel elektrisiteit as ander lande om dieselfde bruto binnelandse produk te genereer. “Ons moet ’n totale denkskuif maak en kollektief verantwoordelikheid neem vir die wyse waarop ons energie verbruik,” het hy gemaan.
Intussen moet Zimbabwe ingevolge sy kragleweringsooreenkoms met NamPower van 31 Julie die 80 MW elektrisiteit wat van die Hwange-kragstasie na Namibië kom, verhoog tot 120 MW. Namibië se daaglikse verbruik is tussen 450 MW en 500 MW.
|