26.02.2010 Krag ruk beursies
’n VLOEDGOLF van prysstygings vir alledaagse verbruikersitems gaan die uiteinde vir Namibiërs wees ná die Suid-Afrikaanse regering se aankondiging dat ’n skerp verhoging in die prys van elektrisiteit goedgekeur is.
Benewens ’n verbandhoudende verhoging in plaaslike voorsieningskoste van elektrisiteit gaan die inflasie wat die toename van 75 persent oor ’n tydperk van drie jaar in Suid-Afrika vir die kommoditeit gaan meebring, ook oor die Oranjerivier spoel.
Volgens mnr. Emile van Zyl, finansiële ontleder en navorser by die firma Simonis Storm Securities, gaan Namibië beslis inflasie saam met die duurder krag invoer.
“Wat wel verblydend is, is dat die verwikkeling die speelveld vir die Namibiese vervaardigingsektor meer gelyk maak en kan die land nou ’n meer beduidende rol in die streek as vervaardiger van goedere begin speel. In die verlede het goedkoop krag in Suid-Afrika veroorsaak dat Namibië nie die speelveld kon betree nie.”
Ten opsigte van die onvermydelike verhoging in pryse van verbruikersgoedere het mnr. Van Zyl gesê Namibië, soos ander lande in die wêreld, bevind hom in ’n situasie waar die vraag na goedere onder ernstige druk verkeer.
Verskaffers van verbruikersgoedere sal moet toesien dat die vraag wat wel nog bestaan, beskerm word, anders gaan die negatiewe effekte na alle vlakke van die samelewing uitkring.
Mnr. John Kaimu, die skakelbeampte van NamPower, sê Namibië voer ’n groot deel van sy elektrisiteit van Suid-Afrika in en enige styging in die prys suid van die grens sal uiteindelik ’n styging in die prys vir plaaslike verbruikers beteken.
“NamPower is reeds besig om nuwe prysstrukture saam te stel en sodra die proses afgehandel is, sal ’n aansoek aan die Elektrisiteitsbeheerraad gerig word vir die verhoging van tariewe. Die Elektrisiteitsbeheerraad is geskep om die funksie te verrig en in die stadium kan NamPower nie die impak van die prysstygings in Suid-Afrika kwantifiseer nie.”
Hy het wel genoem dat die voorsiener alles in sy vermoë doen om minder afhanklik van kraginvoere van Suid-Afrika te word. In die opsig gaan verskeie nuwe projekte deur die loop van die jaar ingestel word om in die tekort van die plaaslike opwekkingsbedryf te voorsien.
Hy het die nuwe dieselkragstasie in Walvisbaai en die Caprivi-skakel as voorbeelde genoem. Langer termyn projekte soos die Kudu gas-tot-krag projek, ’n steenkoolkragstasie aan die kus, minikragsentrales in die Oranjerivier, die Baynes hidrokragsentrale en alternatiewe opwekkingsmetodes is genoem; ook dat die vierde turbine in die Ruacana Hidrokragsentrale aan die begin van 2012 in gebruik sal wees.
Mnr. Siseho Simasiku, die hoof uitvoerende beampte van die Elektrisiteitsbeheerraad, het gesê Namibië is ’n geruime tyd reeds besig om die tariewe vir elektrisiteit op ’n gelyke skaal met die opwekkings- en invoerkoste daarvan te bring.
“In Suid-Afrika is die werklikheid iets heelwat anders. Die land se nasionale kragvoorsiener het vir lank niks gedoen nie en skielik die skerp styging in pryse aangevra om nuwe opwekkingsprojekte te befonds.”
Hy het gesê Namibië sal ongestoord voortgaan met die ooreenkomste wat ten opsigte van die verhoging in kragpryse gesluit is. Ten spyte daarvan het hy bygevoeg dat die verwikkeling in Suid- Afrik ’n delikate balanseeroefening plaaslik tot gevolg gaan hê.
“Gesien teen die heersende ekonomiese omstandighede oor die hele wêreld gaan skerp prysstygings ’n sterk impak op die plaaslike ekenomie en die ontwikkeling daarvan hê.
“Dit help nie kragtariewe is kostereflektief, maar niemand kan daarvoor betaal nie. Die kragbedryf mag homself nie in die voet skiet nie.”
Hy het genoem dat uiteindelike stygings in kragpryse in oorleg met die sentrale bank van Namibië gedoen sal word om te verseker dat die land se ekonomie nie daaronder ly nie. ’n Aankondiging oor nuwe kragtariewe word aan die begin van Julie vanjaar verwag.
|