25.07.2008 Kosplan kry lyf
‘n OMVATTENDE noodvoedselprogram om die armste van die armes te help, is gister deur die Eerste Minister, mnr. Nahas Angula, aangekondig. Binne die volgende twee weke sal begin word met ‘n tussentydse voedselondersteuningsprogram wat streke sal teiken wat vroeër vanjaar ernstig deur vloede geraak is.
Volgens Premier Angula is duisende nedersettings in Omusati, Ohangwena, Oshana, Oshikoto en in die Zambezi-vloedvlakte in die Oos-Caprivi deur die vloede ontwrig. ‘n Bedrag van N$30 miljoen is hiervoor uit die begroting van die Noodbestuurseenheid in die Kantoor van die Eerste Minister beskikbaar gestel.
Basiese voedselsoorte soos mielies en mahangomeel, gedroogde vis, boontjies en kookolie sal aan huishoudings in hierdie gebiede beskikbaar gestel word. Die Kabinet het vroeër vandeesmaand ook besluit om ‘n landwye noodvoedselskema in te stel ná aanleiding van ‘n omvattende voedselveiligheidopname wat deur ‘n span van die Regering en die Wêreldvoedselprogram (WFP) in al 13 streke van die land onderneem is.
Meer as ‘n halfmiljoen mense sal ingevolge die skema vir die volgende ses maande bygestaan word. ‘n Bedrag van N$228 753 940 is hiervoor opsy gesit. Weerlose groepe onder wie bejaardes, gestremdes, kinders, vroue wat aan die hoof van huishoudings staan, swanger vroue en moeders wat borsvoed sal met dié skema gehelp word.
Premier Angula sê ondersoeke deur die Wêreldvoedselprogram, Unicef en die Ministerie van Geslagsgelykheid en Kinderwelsyn het aan die lig gebring dat wanvoeding landwyd 'n probleem is en dat dit in Caprivi die ergste is. Die Ministerie van Visserye en Mariene Hulpbronne sal Namibiërs gevolglik aanmoedig om meer vis te eet, terwyl die Ministerie van Onderwys ook deur die Kabinet beopdrag is om sy skoolvoedingskema uit te brei.
Die stappe volg ná Pres. Hifikepunye Pohamba op 17 Junie aangekondig het dat geen belasting op toegevoegde waarde op noodsaaklike voedselsoorte soos bone, kookolie, vet, brood en koekmeel gehef sal word nie. Wetgewing in die verband is deur die Parlement aanvaar en Pres. Pohamba het dit onderteken. Na verwagting sal die welkome verligting vir die verbruiker op 1 Augustus in werking tree.
Tog wys Premier Angula daarop dat elke burger van die land ‘n plig het om sy deel te doen om te help en dat Namibiërs nie net moet wag dat die Regering tot hul hulp moet kom nie. “Diegene wat geneig is om aan onwettige stakings deel te neem wat die gevaar inhou dat hulle hul werk kan verloor, moet hulle van die optrede weerhou.
Ek sê nie die regte van werkers moet misken word nie, maar dat dit eerder deur die regte kanale en kragtens bestaande wetgewing hanteer moet word. “Huishoudings moet ook spaarsaam met hul bronne werk sodat hulle in staat sal wees om tot die volgende oesseisoen te oorleef. Diegene wat surplus mahango of mielies het, sal versoek word om dit aan die Regering vir herverspreiding onder die mees weerlose sektore van die samelewing te lewer.
“Ek doen ook ‘n beroep op mense om nie inhalig te wees en noodsaaklike voedsel vir die instandhouding van hul gesinne te verkoop om geld in die hande te kry nie,” het mnr. Angula gesê. Hy het gevra dat diegene wat werk het of genoeg voedsel vir hul gesinne kan produseer, moet terugstaan en mense met niks moet toelaat om hulp te ontvang. “Dit is nie nodig om paniekerig te raak nie.
Waar daar werklik nood is, moet die Noodbestuurseenheid in die Kantoor van die Eerste Minister of streekraadlede van ‘n betrokke kiesafdeling gekontak word om dit onder hulle aandag te bring. “Ons wil ook nie sien dat sekere politici die weerloosheid van ons mense en die kwessie van voedselveiligheid vir politieke gewin uitbuit nie,” het die Premier bygevoeg.
Hy het gesê die Regering sal nie skroom om streng op te tree teen enigiemand wat probeer om deur korrupte optrede munt uit die skema te slaan nie. Hy het ‘n beroep op lede van die publiek gedoen om, waar hulle enige ongerymdhede opmerk, dit dadelik aan die polisie te rapporteer. “Mense in landelike gebiede dink soms dit gaan beter in die dorpe en stede.
Dit is nie die geval nie. “Dikwels is mense in stede en dorpe armer en meer uitgelewer as in landelike gebiede. Die boodskap is duidelik: niemand in stede en dorpe sal noodvoedselhulp ontvang nie. “As iemand gehelp wil word, moet hy na sy nedersetting in die landelike gebiede terugkeer. Dit is net dié wat daar is wat gehelp sal word,” het mnr. Angula gesê.
|