24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

30.01.2012

Tsumkwe se ligte nou voltyds aan

© Tammy Kleinhans
Die sonpanele en gebou waar die dieselaangedrewe kragopwekkers staan op Tsumkwe by die nedersetting se nuwe kragsentrale wat nou aan inwoners 24 uur per dag toegang tot elektrisiteit bied.

DIE meer as 700 inwoners van Tsumkwe het nou 24 uur per dag toegang tot elektrisiteit en sien uit na die ontwikkeling wat dit vir die gemeenskap inhou. Die nedersetting se son- en dieselaangedrewe kragsentrale is verlede week amptelik deur die Minister van Myne en Energie, mnr. Isak Katali, geopen.

Die geleentheid is ook deur eregaste soos die voormalige premier, dr. Libertina Amathila, die goewerneur van die Otjozondjupastreek mnr. Rapama Kamehozu, Adjunkminister Priscilla Beukes van Streek- en Plaaslike Owerheid, Behuising en Landelike Ontwikkeling, tradisionele leiers en die sakeman mnr. Harold Pupkewitz bygewoon.

Die Tsumkwe Energieprojek was ’n vennootskap tussen die Woestynnavorsingstigting van Namibië (DRFN), die Europese Unie, NamPower en die Ministerie van Streeken Plaaslike Owerheid, Behuising en Landelike Ontwikkeling. Van die totale begroting van N$26 miljoen is 75 persent deur die EU bygedra, 14% deur NamPower en 11 persent deur die genoemde Ministerie met die Otjozondjupa-streekraad as tussenganger.

Die voorsiening van elektrisiteit sal ’n positiewe impak op die ontwikkeling van Tsumkwe hê, was die oorwegende mening. NamPower se besturende direkteur, mnr. Paulinus Shilamba, het gesê die rede hoekom Tsumkwe uitverkies is, is omdat dit die land se grootste nedersetting is wat nie aan NamPower se netwerk verbind is nie.

Om die nedersetting te verbind, sou die aanlê van 500 km se transmissielyne vereis wat duur en nie kostedoeltreffend sou wees nie. Shilamba het gesê die kragsentrale se tegniese ingebruikneming was reeds in Augustus verlede jaar en sedertdien het dienslewering in onder meer gesondheid, onderwys, toerisme en kleinhandel verbeter.

Hy het gesê NamPower het nie net tegniese bystand gebied nie, maar ook sonwaterverhitters en ’n vragmotor wat tot die instandhouding van die sentrale sal bydra, is aan Kamehozu oorhandig. Beukes het gesê die inwoners en die sakegemeenskap het nou toegang tot moderne, dog bekostigbare energie. Die Tsumkwe sonkrag- en dieselaangedrewe stelsel is ontwerp om as ’n voltydse kragsentrale te dien met ’n algehele elektriese lewering van 410 KW. Die sonkrag-gedeelte van die stelsel bestaan uit 201 KW sonpanele, 200 KW omsetters en ’n 720 kWh batterystoorkapasiteit.

Die sentrale het drie kragopwekkers waarvan die twee kleiner 140 KVA opwekkers ontwerp is om onafhanklik of saam met die sonkrag te werk. Die groter 315 KW opwekker wat oorspronklik die nedersetting van krag voorsien het, bly vir rugsteun indien onderhoud aan die stelsel uitgevoer moet word. Adjunkminister Beukes het gesê voorafbetaalbare meters is reeds vir alle verbruikers van elektrisiteit geïnstalleer. Sy het gesê haar Ministerie se fokus om landelike gebiede te ontwikkel, het nou ’n nuwe omvang met meer produksie-, nywerheid- en marksentrums wat gebou gaan word om sakegeleenthede te skep en ook aankoopgeleenthede vir die gemeenskappe te skep.

Katali het gesê die begroting om krag aan landelike gebiede te voorsien, het met N$40 miljoen tot N$100 miljoen vir die huidige finansiële jaar toegeneem. Hy het gesê een van die programme wat die Ministerie ingestel het, is die toekenning van geld vir die elektrifisering van openbare instellings in landelike gebiede deur die gebruik van sonkrag. Hy het gesê Namibië sal teen die winter ’n tekort van 80 MW elektrisiteit hê en teen 2015 word voorspel dat die tekort 300 MW sal wees.

Katali het gesê ’n vierde kragopwekkingseenheid by Ruacana behoort in Maart vanjaar voltooi te wees, wat 92 megawatt by die huidige kapasiteit van 249 megawatt sal voeg. Hy het Namibiërs aangemoedig om spaarsamig met hul elektrisiteit te werk en die hoop uitgespreek dat kragsentrales soos die een op Tsumkwe, geïnstalleer kan word op ander landelike gebiede wat nie aan NamPower se netwerk verbind is nie.