TSES, een van die plekke waar krane ’n paar weke gelede opgedroog het weens die hoë waterskuld waarin die nedersettingsraad swem, is druk besig om stappe teen instellings te doen wie se waterskuld uitstaande is. Hierdie aksie het die polisiekantoor en die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou asook die poskantoor wat in dieselfde gebou huur sonder water gelaat, totdat die Ministerie van Streek- en Plaaslike Owerheid, Behuising en Landelike Ontwikkeling N$600 000 aan NamWater betaal het.
Die bedrag verteenwoordig nagenoeg 20% van die nedersetting se gesamentlike opgeloopte waterskuld van byna N$2,8 miljoen. Me. Benade Thomas, waarnemende hoof uitvoerende beampte van die Tses nedersettingsraad, sê die skuld van die drie instellings is afgelos en beide die watertoevoer en elektrisiteit is herstel. Die polisiekantoor se skuld wat N$15 000 beloop het, is Dinsdag afgelos, terwyl die Ministerie s’n van N$7 000 die vorige week betaal is.