28.12.2011 Munisipaliteit: Geen ander raad met Katima se rondloperhonde
 ’n Foto van die hordes rondloperhonde wat Katima Mulilo se strate vol loop.
KATIMA Mulilo se dorpsowerheid sien geen ander uitweg in die krisis met rondloperhonde op die dorp as om die diere in groot getalle dood te skiet nie. Mnr. Charles Nawa, waarnemende hoof uitvoerende beampte van die munisipaliteit, het gister sekere inwoners se pleidooie vir ’n meer menslike en professionele oplossing vir die probleem as onhaalbaar bestempel.
Ondanks fotobewyse wat Vrydagmiddag geneem is van ’n hoop hondekarkasse, die meeste in swartsakke toegedraai, het Nawa aangevoer dat werkspanne veronderstel is om elke dag voor uitskeityd die oorskot te verbrand. Hy het onderneem om dadelik self ondersoek in te stel om te verseker dat die beleid uitgevoer word. “Daar is geen manier dat ons die karkasse net daar kan los nie,” het Nawa gesê.
“Dit sal stink.” Hy reken die skietspan was maar net terug in die dorpstrate om nog honde te skiet voordat hulle die karkasse moes verbrand. Volgens Nawa is dit onmoontlik om syfers te verstrek oor hoeveel rondloperhonde daar op die dorp is. “Ons het onder meer die radiostasie gebruik om mense in te lig dat hulle hul honde in hul erwe moet kry of vasmaak, want op 13 Desember begin ons met die uitdunveldtog.” Nawa sê die doodskiet van die honde is ’n laaste uitweg.
“Voor dit het ons vir omtrent drie jaar glad nie opgetree nie.” Die skietwerk is voorlopig gestaak. “Ons wil nie nou mense steur nie,” het Nawa met betrekking tot Kersfees en Nuwejaar gesê. Volgende week sal die roers egter weer uitgehaal word. Nawa het erken dat van die honde siektes onder lede kan hê.
“Die meeste het nie eienaars nie. Ons kry ontsettend baie klagtes dat honde mense byt. Ons tree glad nie op teen gelisensieerde honde nie,” is egter benadruk. Volgens Nawa probeer die munisipaliteit eenvoudig vir ’n slag gesondheidsregulasies afdwing. Volgens hom is dit nie moontlik om die meestal erg wilde diere te vang nie. “Ons het ook nie ruimte om die diere te skut nie.” Om die diere uit te sit, is volgens die dorpsowerhede ook nie prakties moontlik nie.
|