
Mnr. Paul Nghiwilepo
HULLE verdrink in armoede en werkloosheid terwyl miljoene dollar in die munisipaliteit gestort word om hulle uit hierdie situasie te red. Die geld het spoorloos verdwyn, sê ontevrede inwoners op Mariental.
Klagtes dat die hoof uitvoerende beampte van die munisipaliteit korrup is en armoede op die dorp bevorder, is vervat in ’n petisie wat verlede week deur inwoners aan die burgemeester oorhandig is.
Volgens die petisie het die inwoners meer as een keer hul kommer oor korrupsie in die munisipaliteit uitgespreek, maar dit val op dowe ore.
Ander beskuldingings in die petisie sluit in munisipale dienste wat na bewering verskil van mens tot mens asook van woonbuurt tot woonbuurt, raadslede wat nie gemeenskapsvergaderings hou nie, vooruitbetaalde water-en elektrisiteitkaartjies wat deur munisipale werkers op straat verkoop word, openbare toilete wat nie gebou word nie en hoë munisipale tariewe.
Mnr. Paul Nghiwilepo, die hoof uitvoerende beampte, word deur inwoners van die wangebruik van geld beskuldig. Volgens ’n petisie wat aan burgemeester Alex Kamburute oorhandig is, het miljoene dollar glo verdwyn. Me. Rachel Mulike wat die petisie namens die ontevrede inwoners oorhandig het, beweer die N$10 miljoen vir die Geteikende Ingrypingsprogram vir Werkskepping en Ekonomiese Groei (TIPEEG) is deur die munisipaliteit gebruik om die dorp se waterskuld af te los.
Die geld is aan die munisipaliteit gegee om die water en sanitasiestelsel te verbeter en tenders is geadverteer en dit is ’n hele proses wat gevolg moet word, sê Nghiwilepo. “Die geld is in die rekening en die rekening is oop vir inspeksie,” het hy telefonies aan Republikein gesê.
Volgens hom is die petisie ook aan die Teenkorrupsie Kommissie (ACC) gegee om verdere ondersoek te doen. Dit is glo deur adv. Erna van der Merwe, die adjunkdirekteur ontvang. “Ek het haar (Van der Merwe) vertel dat ’n ondersoek in die belang van die publiek is,” het Nghiwilepo gesê.
Nghiwilepo erken dat ’n vertraging voorkom in die tenderproses wat teen Januarie afgehandel moes gewees het, maar hy is optimisties dat dit teen die middel van hierdie maand agter die rug sal wees. Volgens hom is daar plaaslike kontrakteurs wat die tender wil kry en dus die inwoners gebruik. “Die storie loop dat die tender aan ’n maatskappy van Oshakati toegestaan is, maar dit is nie waar nie,” voeg hy by.
Mense in die luukse woonbuurte op die dorp ondervind ook probleme met die riole wat verstop. Geld om die herstelwerk te doen asook om ’n bykomende pomp op te rig, is by die N$10 miljoen ingesluit, sê Nghiwilepo.
Ses nuwe waterpunte is in Takaranië en vier in Donkerhoek geskep, het hy geantwoord toe hy oor die waterpuntkwessie uitgevra is.