29.12.2011 Grootvoet laat Aminius groot skrik
DIE olifantbul wat die afgelope week in die Ooste ronddwaal, het vir groot konsternasie gesorg toe mense by Aminuis die dier gewaar en hom uit vrees met honde en stokke probeer verwilder het. Die bul is ’n week gelede in die omgewing van Steinhausen gesien, van waar hy verby Witvlei suidwaarts beweeg het en later weer noordoos gedraai het tot teenaan Gobabis.
Die grootvoet het vroeër die week suidoos beweeg en is Maandag op ’n plaas naby Onderomapa gewaar. Hy het daarna in die Aminuis- reservaat in ’n suidwestelike rigting begin stap. Mnr. Loveness Ndeiweda, senior natuurbewaarder in die Omahekestreek, sê hy het verskeie oproepe ontvang van mense wat die olifant in die reservaat gewaar en hulle boeglam geskrik het.
“Ek het aan hulle verduidelik hulle moet die olifant met rus laat. Hy is nie ’n probleemdier wat mense gaan seermaak of eiendom gaan beskadig nie.” Volgens hom is die Hererodiens van die NBC ingespan om mense tot kalmte te maan. Ndeiweda het self ook gaan ondersoek instel, maar het net die olifant se spore gesien.
“Ons vermoed hy kom van Botswana af en is waarskynlik weer op pad soontoe. Daar kom voortdurend leeus en ander diere van Botswana af na Namibië toe. Dit is nie ongewoon nie. Olifante is beskermde diere en mag nie gejag word nie, tensy hy weens sy gedrag tot ’n probleemdier verklaar word.”
Hy sê die vermoede is dat dit ’n ou bul is – dalk selfs so oud soos 60 jaar. Gobabis, wat drinkplek van die olifante beteken, was vroeër jare op die migrasieroete van olifante in die Kalahari. Olifantbulle beweeg dikwels alleen en kan vir selfs weke wegdwaal en ander gebiede verken, sê Ndeiweda.
|