11.01.2012 Biathle toets spoed en uithouvermoë
’n TOETS vir alle hardlopers en swemmers word op 28 Januarie in Windhoek aangebied wanneer die eerste Biathle-byeenkoms in die land plaasvind. Biathle is ’n aaneenlopende hardloop-swem-hardloop byeenkoms en word as ’n teelaarde beskou vir moderne pentathlon, ’n Olimpiese sport wat vyf dissiplines insluit, naamlik skiet, skermkuns (fencing), swem, perdry en hardloop.
“Die sport is baie gewild in Suid- Afrika, wat gewoonlik met omtrent 30 medaljes van die wêreldkampioenskap terugkeer. Ons mikpunt is om met hierdie byeenkoms die sport bekend te stel met die oog op die SA kampioenskap in Junie en die wêreldkampioenskap in Oktober,” sê Anton Swart, een van die organiseerders.
Vir die eerste byeenkoms word wedlope oor die volgende afstande aangebied: 500 m hardloop, 50 m swem, 500 m hardloop: Jeug E (10 jaar en jonger), Jeug D (11-12 jaar). 500 m hardloop, 100 m swem, 500 m hardloop: Jeug C (13-14 jaar) 1 000 m hardloop, 100 m swem, 1 000 m hardloop: Meesters A (40-49, Meesters B (50-59), Meesters C (60-69 jaar), Meesters D (70 jaar en ouer). 1 000 m hardloop, 200 m swem, 1 000 m hardloop: Jeug B (15-16 jaar). 1 500 m hardloop, 200 m swem, 1 500 m hardloop: Jeug A (17-18 jaar), Juniors (19-21 jaar) en Seniors (22 jaar en ouer). Die Namib Swemakademie in Windhoek het sy swembad en sportterrein vir die byeenkoms beskikbaar gestel. ’n Ope uitnodiging word aan alle fiksheidsbewustes en veral aan skole gerig om deel te neem. Die NSA se swembad is in Chasiestraat, op die hoek met Frankie Fredericks-rylaan.
Inskrywings is gratis en registrasie word net op die oggend van die wedloop vanaf 07:15 tot 08:00 gedoen. Die wegspringtyd is om 08:15. Vir meer inligting oor Biathle en modern pentathlon, besoek die webblad van die wêreldbeheerliggaam die UIPM (Union International de Pentathlon Moderne) by www.pentathlon.org. Vir verdere navrae kan Anton Swart by sel. 81 659 4708 of epos ntnswrt@yahoo.com bereik word.
Volgens hom word beplan om later soortgelyke byeenkomste by die kus, in die Noorde en die Suide te hou voor die nasionale kampioenskap waar ’n span vir die SA en die wêreldkampioenskap gekies kan word.
|