30.01.2012 Aranos-skole het vakante poste
OUERS en personeel van die vier staatskole op Aranos was vroeg verlede week bekommerd oor ’n tekort aan onderwysers en klaskamers. Tot 84 leerlinge van Laerskool Salmon Boois moes in die skoolsaal sit omdat daar nie genoeg klaskamers is nie. Saam met J.R. Camm, Primêre Skool Aranos en Sekondêre Skool Rooi Duin, het die vier skole teen Woensdag nog nege vakante poste vir onderwysers gehad. “Ons is ontevrede,” het ’n onderwyseres van een van die skole gesê.
“Die klasse is oorvol en sommige grade sit sonder toesig.” Die direkteur van onderwys in die Hardapstreek, mnr. Ben Boys, het verlede week vertel dat hy besoek aan Aranos afgelê het om duidelikheid te kry oor die probleme wat die skole ervaar. Hy het die oorvol klasse en tekort aan onderwysers bevestig, maar ook gesê hy het tesame met skoolhoofde en amptenare ’n span saamgestel wat die probleme moet oplos.
“Die situasie op Aranos was ietwat van ’n krisis, maar ons het nou ’n plan vorentoe,” het hy gesê. Heelwat strukturele veranderinge aan die skole tree vanjaar in werking. J.R. Camm bied nou klasse vanaf graad 0 tot graad 7 aan en Rooi Duin het ’n graad 11-klas bygekry. Op die vergadering het die raad saam met Boys onderwysers tussen die vier skole verdeel en ook aan die ouers die versoek gerig om hul kinders na die kleiner klasgroepe van ander skole te verskuif sodat ’n beter balans bereik kan word. “Ons sit met ’n situasie waar een skool se klasse oorvol is, terwyl die ander net ’n klein groepie leerlinge het,” het die direkteur gesê. Die Laerskool Salmon Boois se getal staan tans op 647. J.R. Camm het 358 leerlinge, Primêre Skool Aranos het 153 leerlinge en Rooi Duin se getal staan op 282 leerlinge.
“Die skole was nie goed beplan nie, maar al wat hulle nodig gehad het, was ’n bietjie leiding.” Boys het gesê hy het die adjunkdirekteur, me. Liz Kaurauta, opdrag gegee om die probleem van aanstellings te hanteer sonder dat ’n middelman betrek word. Sedert die ingryping van die Ministerie van Onderwys in die Hardapstreek Maandag, is drie nuwe onderwysers by Salmon Boois aangestel wat voortaan natuurwetenskap, rekenaarwetenskap, landbou en Khoe Khoe Gowab sal aanbied.
Boys het beklemtoon dat die gemeenskap daarop aandring dat gekwalifiseerde onderwysers met voldoende ondervinding aangestel word. Hy het gesê van die poste is verlede jaar in die koerante geadverteer, maar dat vakante poste steeds bestaan vanweë onder meer bedankings en onvoorsiene omstandighede. ’n Mens skop nie sommer ’n onderwyser agter elke bos uit nie, het hy gesê.
|