|
Republikein
|
|
|
22.09.2009 Kontak ECN op die web![]()
DIE Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) het sy nuwe interaktiewe webwerf verlede Vrydag bekendgestel.
Volgens mnr. Lazarus Shatipamba, kommissaris van die kommissie, is hierdie ‘n mylpaal in die geskiedenis van verkiesings in Namibië, aangesien dit ‘n platform aan skakeling met die kommissie se rolspelers, vennote en kliënte bied. “Hierdie ontwikkeling is die gevolg van die onkeerbare invloed wat inligting- en kommunikasietegnologie uitoefen op die poging om interaksie met staatsinstellings, private ondernemings, die openbare gemeenskap en burgers moontlik te maak,” het hy gesê. Die webwerf verhoog die elektroniese lewering van staatsbestuur, dienste en inligting met die doel om ‘n platform te skep vir besprekings, debatte en openbare terugvoer. Die webwerf sal in die toekoms uitgebrei word en besoekers is die versekering gegee dat die blad op ‘n veilige platform ontwikkel is wat sekuriteit en vertroulikheid verseker vir almal wat met die kommissie deur die werf kontak maak. Die webwerf is met die ondersteuning en kennis die kommissie se inligting– en kommunikasietegnologie-vennoot in die 2009 Presidents- en Nasionale Vergaderingverkiesings ontwikkel. Platforms is ook vir selfoongebruikers geskep om deur middel van die stelsel inligting te kan ontvang. Mnr. Shatipamba het genoem dat selfoongebruikers wat van die selfoondiensverskaffer Cell One gebruik maak, in die stadium nie geakkommodeer word nie omdat Cell One nog nie so ‘n platform ontwikkel het nie. Mnr. Shatipamba het tydens die geleentheid weer die ECN se verbintenis tot vry en regverdige verkiesings onderstreep. Besoek gerus www.ecn.na vir meer inligting oor registrasiepunte in en buite die landsgrense, belangrikste datums en inligting oor wat nodig is om vir die komende verkiesing te registreer. |
|