2.02.2010 Konsert samel duisende vir Haiti se slagoffers in
DIE konsert in die park Saterdag het vir die slagoffers van verlede maand se vernietigende aardskudding in Haiti ’n ronde N$29 000 beteken. Hopelik sal die Nasionale Jeugraad, die Namibiese Kamer van Handel en Nywerheid en ander plaaslike rolspelers soos die Bybelse verhaal van die talente, die bedrag kan vergroot na sowat N$100 000 ná Vrydag se galadinee by die Hotel Safari.
Die sekretaris-generaal van die Namibiese Jeugraad, mnr. Mandela Kapere, het gister bevestig dat die opbrengs van die konsert in die Zoopark N$29 000 was en dat alles wat deur die NCCI en Jeugraad ingesamel word, op een slag aan die Namibiese Rooikruisvereniging oorhandig sal word.
Volgens beplanning word die galadinee as die groot geleentheid beskou. President Hifikepunye Pohamba sal die hoofspreker op die geleentheid wees waar ’n tafel weldoeners N$10 000 sal kos.
Die dinee begin om 18:00 Vrydag en kaartjies is by die NCCI beskikbaar. Mnr. Kapere het ook gesê die konsert, soos die dinee, word danksy die gunste en gawes van weldoeners aangebied.
Die totale koste vir die konsert was maar sowat N$2 000, aangesien alles wat nodig was, geskenk is. Dieselfde geld die dinee.
Intussen het Rosemary Nalisa van die NRCS gister laat weet dat die Rooi Kruis se rekening nou op N$45 000 staan. S
amaritane wat omgee vir die mense van Haiti, kan kontant inbetaal by die Haiti Fonds, Standard Bank Katutura, rekeningnommer 241 964 164. Die takkode is 082 972.
Intussen loop die SMS-stroom dik vir die Haiti slagoffers in samewerking met Republikein en MTC. Sedert die veldtog begin het, word gemiddeld N$1 000 per dag vir die hulpfonds deur middel van N$5-SMS’e opgepot. Bydrae met die woord “Haiti” kan na 2005 gestuur word en elke keer as ’n sms deurgaan, klingel N$5 in die fonds se blikkie.
Me. Nalisa sê die doelwit van N$10 miljoen is steeds haalbaar en die veldtog sal sowat drie maande duur.
|