20.01.2012 Videokompetisie sluit vannag
TIEN, 9, 8, 7, 6... Dit is hoe die horlosie die ure verby tik tot middernag vannag wanneer Republikein en Hi-Fi Corporation se heel eerste nuusvideokompetisie ten einde loop.
Gister is nie minder nie as vier inskrywings ontvang. Gaan loer op ons webtuiste hoe Mervin die waterskilpad soos ’n wafferse Houdini ontsnap, hoe ’n verkleurmannetjie in Etosha sy mantel na die wind draai, hoe twee mans mekaar die stryd aansê in ’n swembad by Nonidas en hoe ’n skilpad in die kryt klim teen twee koelbokse. Die diere en hul vreemde maniere sal julle lekker laat skater.
’n Paneel beoordelaars sal die wenner Maandag aanwys, wat ’n Sanyo-videokamera ter waarde van N$3 500 met sy/haar wenvideo losslaan.
Voor dit kan lesers ook op Republikein se webtuiste vir hul gunsteling-video stem. Inskrywings kan nog tot middernag vandag na nuusvideo@gmail.com gestuur word.
Indien jy sukkel om die materiaal by ons te kry, bel gerus vir Baxter Jones by 061 297 2031. Hy sal aan jou verduidelik hoe jy te werk kan gaan.
|