24.5.2012
 Argiewe:

DMH competition terms


Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

25.01.2012

Peter Funck wen nuusvideokompetisie

© Le Roux van Schalkwyk
Die wenner van die nuusvideokompetisie is mnr. Peter Funck (59) van Swakopmund vir sy inskrywing Weskus 4x4 Vasbyt.
’n AFGETREDE Swakopmunder met ’n passie vir die buitelewe en 4x4-toere, het met sy nuusvideo-inskrywing van die Weskus 4x4 Vasbyt op 29 Desember buite Walvisbaai die eerste prys in Republikein en Hi-Fi Corporation se kompetisie gewen.

Mnr. Peter Funck (59) se inskrywing het die beste voldoen aan die toets vir nuuswaardigheid, naamlik tydsberekening, die aantal mense wat ’n belang daarby het, waar die gebeurtenis plaasgevind het, wat die belangrikheid daarvan is en of die menslike element tot die kykers sal spreek.

Sy inskrywing het uit ’n goedverpakte aanbiedinge bestaan van die hoogtepunte van die Vasbyt met goed ondersteunende klankinsetsels waar die kyker die kommentator se opmerkings kan volg en hoor wat die skare te sê het. Verder was dit ’n nuusgebeurtenis aan die kus in die tyd toe die meeste Namibiërs daar uitgespan het. Deur middel van Funck se video kon die kyker in die binneland deel hê aan ’n geleentheid wat jaarliks groot getalle besoekers lok en waarby vakansiegangers, selfs al is hulle nie 4x4-entoesiaste nie, ’n belang het.
© Ronelle Rademeyer
Mnr. André Barnard, takbestuurder van Hi-Fi Corporation, wys hoe lyk die Sanyovideokamera wat Funck gewen het.
Die ander video wat, gemeet aan hierdie kriteria uitstekend gevaar het, is die kaalbaskaskenades wat Alex Samuel met sy selfoon op ’n strand by Walvisbaai afgeneem het. Die video is ook die meeste gekyk en het binne die eerste dae nadat dit op die webtuiste verskyn het, op Republikein se toptien-lys vir die jaar beland.

Omdat Samuel ’n werknemer van Republikein is, kon hy egter nie meeding nie.

Inskrywings van diere – van skilpaaie, trapsoetjiese en slakke tot by ’n kwaai renosterkoei – het die kompetisie oorheers. Van hulle was tegnies baie goed versorg, maar dit slaag nie die toets vir nuuswaardigheid so goed soos dié van Funck nie.

Nog ’n inskrywing wat eervolle vermelding geniet, is die Burgers se visvang-uitstappie na Angola. Die onderwater-fotografie is besonder goed. Ook in dié geval moes dit aan die lakmoestoets vir nuuswaardigheid onderwerp word.

Funck vertel hy en sy vrou, Elza, het ná hul aftrede in 2007 op Swakopmund kom woon. Hulle is oorspronklik van Oos-Londen.

“Beide van ons geniet die buitelewe en toer sedert ons ons eerste 4x4-voertuig in 1999 gekoop het. Ons het gereeld elke jaar deur Suid-Afrika, Botswana, Zambië of Namibië getoer en ons laaste groot ekspedisie was ’n ses maande lange 4x4-toer deur die ooste van Afrika tot in Europa.”

Sy stokperdjie is om tydens hierdie toere foto’s en video’s te neem en deur die jare het hy die tegnieke goed onder die knie gekry.

“Ons is ook sedert 2011 lede van die Namib Desert 4x4-klub en so het die video van die 4x4 Vasbyt sy ontstaan gehad.”

Funck het met sy weninskrywing ’n Sanyo-videokamera losgeslaan, met komplimente van Hi-Fi Corporation. Dit sal binnekort aan hom oorhandig word.

Republikein en Hi-Fi Corporation se volgende videokompetisie skop volgende Vrydag af. Meer inligting hieroor sal nader aan die tyd bekendgemaak word.