
Andrew Hall en sy bruid Marlize.
DIT klink eenvoudig te goed om waar te wees, maar een gelukkige inwoner van Windhoek het ’n gratis woonerf in die nuwe Elisenheim behuisingsontwikkeling as trougeskenk ontvang.
Andrew Hall was Saterdag op Port Alfred aan die Oos-Kaapse kus besig om vir sy troue voor te berei toe hy ’n oproep van sy eiendomsagent uit Windhoek ontvang. Sy naam is saam met die van sowat 400 ander mense, wat reeds erwe in die eerste fase van die eiendomsontwikkeling gekoop het, in ’n hoed gegooi.
Elke belegger in die nuwe eiendomsontwikkeling net noord van Windhoek het ’n kans gestaan om sy erf gratis te ontvang.
Die ontwikkelaars van Elisenheim het met die aanvang van die verkoop van erwe in die eerste fase, besluit om ’n gelukstrekking te hou wanneer 100 erwe van die hand gesit is. Andrew en sy bruid Marlize, se kaartjie was die tweede van vier wat Saterdag uit die hoed getrek is.
“Ek was op die strand saam met van my neefs en vriende om die senuwees voor die troue so bietje weg te werk toe Hilde van Joseph en Snyman my skakel om die goeie nuus met my te deel. Toe ek hoor dat die erf van N$250 000 myne geword het sonder dat ek ’n sent daarvoor moes betaal, was ek oorstelp van blydskap.”
Andrew sê hy het op en af gespring en geskree van blydskap. Hy het die goeie nuus aan sy toekomstige bruid oorgedra en sy was ewe bly.
“Beter as dit sal mens nie maklik kry nie,” het Andrew gesê voor hy en sy bruid na Mauritius vertrek om hul wittebrood te gaan hou.
Andrew was saam met Christoffer Chipeio, Phillip Kuhn en Cornelius Lewies die vier gelukkige mense wat woonerwe ter waarde van byna N$1 miljoen gratis ontvang het.