9.03.2010 Andy wen die Homeconomix-prys
 Op die foto is mnr. Andy Hansen, ons weeklikse wenner, saam met mnr. Morgan Olivier van Homeconomix wat ’n staanlamp as prys aangebied het.
NÁ die vierde ronde van die Super 14-rugbyreeks het mnr. Andy Hansen van Windhoek gister met ’n Homeconomix-prys van N$1 000 weggestap toe hy die telling tussen die Cheetahs en die Hurricanes Saterdag byna reg voorspel het.
Terwyl baie min lesers gemeen het die Cheetahs staan ’n kans om die wedstryd selfs te wen, was mnr. Hansen se telling 29-12 in die guns van die tuisspan. Die telling was inderdaad 28-12.
Lesers neem aktief aan die SMS-kompetisie na 53500 deel en duisende inskrywings is al ontvang. Met Officeconomix as hoofborg, word weekliks ’n prys of kontant ter waarde van N$1 000 vir ’n korrekte voorspelling in ’n gekose wedstryd uitgeloof.
Dié week gee Bedding Warehouse N$1 000 kontant. Niemand was tot nou toe nog presies reg nie, maar ’n baie naby telling kan werk. Saterdag se wedstryd waaruit gewen kan word, is die een om 17:00 tussen die Bulls en die Highlanders.
Die Bulle is die enigste span wat nog nie in die reeks verloor het nie en is Saterdag gewis die gunstelinge op hul tuisveld. Hulle het ook dusver vanjaar groot tellings teen hul teenstanders opgestapel en is die span om te wen. Kan die Highlanders dit doen? As jy dink jy weet, SMS “einstein” ’n spasie en die wenspan se naam met die telling wat daarop volg na 53500.
SMS’e kos N$3 elk en jy kan deelneem soveel keer soos wat jy wil. Voorwaardes geld. Die kompetisie sluit om 17:00 Saterdag en die wenner sal aanstaande Dinsdag aangekondig word.
|