5.02.2010 Kommissie gooi net oor nog een
DIE Teenkorrupsie Kommissie (ACC) het weer toegeslaan, dié keer op ’n werknemer van die NasionaleBeplanningskommissie (NPC) wat na bewering haar posisie vir persoonlike gewin misbruik het.
Die 34-jarige me. Ndinelao Hamufungu is aangekeer ná die kommissie ’n klagte ontvang het van vermeende fiktiewe betalings op die stelsel van die NPC. Vals verskaffers is glo deur die vermeende bedrieër geskep wat tjeks aan die sogenaamde verskaffers uitgereik het.
“Na ’n deeglike ondersoek uitgevoer is, het die ACC ontdek dat twee tjeks, vir bedrae van onderskeidelik N$6 374,04 en N$12 000 uitgemaak is vir dieselfde ‘verskaffer’ met die naam Kandjala E.N.
“Die ondersoek het verder aan die lig gebring dat die ‘verskaffer’ aan wie die betalings gemaak is, ’n niggie van die verdagte, te wete me. Elise Ndinomholo Kandjala is. Sy werk as kinderoppasser van die verdagte se twee kinders.
“Albei verdagtes is in hegtenis geneem en hulle het reeds in die hof verskyn. Borg van N$4 000 is aan elk van hulle toegestaan en die saak is tot 20 April vanjaar uitgestel,” lui ’n verklaring deur die direkteur van die ACC, mnr. Paulus Noa.
|