12.03.2010 Klimaat: land soek sy eie navorsing
NAMIBIË moet dringend ’n voorraadopname oor alle navorsing wat reeds oor klimaatverandering in die land onderneem is, doen om te verhoed dat die ondertekening van die Kopenhagen-ooreenkoms negatiewe gevolge vir die land sal inhou.
In die verband is die Veeldoelige Navorsingsentrum van die Universiteit van Namibië (Unam) opdrag gegee om deskundiges byeen te roep om tydens ’n slypskool ’n nuwe rigtinggewende agenda oor klimaatnavorsing op te stel. Die voorraadopname is nodig om te verhoed dat die ooreenkoms ’n negatiewe impak op Namibië se geregtelike posisie, die ekonomiese nagevolge en selfs impak van klimaatverandering op Namibiërs se menseregte te verminder.
Tydens die amptelike opening van die slypskool het dr. Boniface Mutumba, Unam se visekanselier van finansies en administrasie, gemeld dat Namibië as een van die mees kwesbare lande ten opsigte van die effek van klimaatverandering ter wêreld beskou word.
“Op sigself dra Namibië nie baie by tot die vrystelling van kweekhuisgasse nie, maar die land is uiters kwesbaar wanneer dit by skerp veranderings in temperatuur en ander buitengewone en uiterste weersomstandighede kom. Verligting van die omstandighede moet op internasionale vlak aangepak word, maar Namibië en ander lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingstreek moet maniere vind om aan te pas sodat hul kwesbaarheid in die algemeen verminder kan word.”
Volgens dr. Mutumba het Namibië met die ondertekening van die Kopenhagen-ooreenkoms soos ander Afrika-lande versoek dat ontwikkelde lande die vrystelling van skadelike gasse vir die atmosfeer drasties moet verminder; dat internasionale samewerking om klimaatverandering te voorkom versterk moet word en dat tegnologiese vooruitgang moet aanpas om die verskynsel ten alle koste teen te werk.
“Dit is Unam as intellektuele instelling se mandaat en plig om ’n leidende posisie ten opsigte van ’n gekonsolideerde navorsingsprojek oor klimaatverandering in te neem. Die slypskool is ’n eerste stap in die regte rigting.”
Die waarnemende direkteur van Unam se Veeldoelige Navorsingsentum, dr. Kenneth Matengu, het gesê die slypskool se doelwit is om ’n navorsingsprogram op te stel en dan die navorsing met sekere prioriteite in gedagte uit te voer. Die program moet terselfdertyd in breë trekke met die nasionale strategie en ontwikkelingsplanne ooreenstem.
“Die program moet gapings in die huidige navorsingsagenda vind, dit regstel en in die toekoms navorsing volgens nuwe riglyne laat plaasvind. Terselfdertyd moet noord-suid vennootskappe uitgesnuffel word om samewerking en aanvullende navorsingsvaardighede en vermoëns plaaslik uit te brei.”
Tydens die slypskool is aspekte soos menslike kwesbaarheid en die geregtelike aspekte daarvan, die ekonomiese impak van klimaatverandering en die fynere besonderhede van die Kopenhagen-ooreenkoms wat Namibië onderteken het, bespreek. Verteenwoordigers van verskillende fakulteite van Unam het voorleggings in die verband gedoen en die slypskool is met die hulp van onder meer die Universiteit van Oxford in Brittanje aangebied.
Kyk ook na ’n videogreep oor die opening van die slypskool onder die Videonuus-skakel.
|