13.02.2012 KK oor vingers getik
 President Hifikepunye Pohanba tydens ’n vergadering van Swapo se Vroueraad (SPWC). Langs hom sit Swapo se sekretaris-generaal, me. Pendukeni Iivula-Ithana, en die sekretaris van die Vroueraad, me. Petrina Haingura.
DIE omstrede Minister van Jeug, Nasionale Diens, Sport en Kultuur, mnr. Kazenambo Kazenambo, is die naweek vir die eerste keer amptelik in die openbaar berispe oor die nuutste storm wat om sy kop losgebars het.
President Hifikepunye Pohamba het Saterdag gesê hy was geskok om in plaaslike koerante oor uitlatings van stamgebondenheid te lees.
Hy het op die eerste vergadering van die Swapo Vroueraad (SPWC) se nuwe sentrale komitee Saterdag by die Swapo-hoofkwartier gesê elke landsburger het ’n verantwoordelikheid om die nasie te verenig.
“Een Namibië, een nasie,” het hy beklemtoon.
“As ons onenigheid aanvuur, sal die land in vlamme wees en ons sal nie kan kies wie eerste brand nie. Selfs die wat die vuur begin, sal deur die vlamme verteer word,” het Pohamba benadruk, sonder om Kazenambo by die naam te noem.
Die Staatshoof het sy ontevredenheid uitgespreek met diegene wat hul plig om die land te verenig, verontagsaam en bygevoeg dat uit die pyn van ander lande geleer moet word. Pohamba het na die burgeroorloë in Rwanda en Angola verwys wat duisende lewens geëis het.
Die naweek is ook berig dat Kazenambo glo Dinsdag na Staatshuis ontbied is om sy optrede teenoor ’n joernalis te verduidelik.
Volgens ’n naweekkoerant spruit die vergadering met senior Swapolede by Staatshuis uit sy tirade in ’n onderhoud wat die joernalis Tileni Mongudhi van Insight met hom gevoer het, asook die nadraai toe hy die bandopname gekonfiskeer en laat uitwis het.
Kazenambo het Mongudhi glo daarvan beskuldig dat hy deel van ’n “Ovambo-sameswering” teen hom is. Hy het glo na medeministers as “onnosele Ovambo’s” verwys en gesê hulle “is nes die Boere – erger, want julle is honger en onnosel.”
Hy het die joernalis se bandopnemer gekonfiskeer en die klankopname glo deur kundiges laat uitwis. Kazenambo het onderneem om die bandopnemer teen Vrydag aan Mongudhi terug te gee.
Insight se redakteur, Frederico Links, het gister aan Republikein bevestig dat hulle wel die bandopnemer ontvang het, maar dat dit klink asof ’n ander opname oor die oorspronklike een opgeneem is.
Volgens hom het die Minister vryheid van die pers ondermyn en hulle beoog om die saak by die Ombudsman vir ondersoek aan te meld.
Hy het gesê die pad vorentoe sal teen vanmiddag bepaal word.
|