17.09.2009 Kiesregistrasie skop af
VOORNEMENDE kiesers kan vanaf vanoggend tot die einde van die maand landwyd registreer om aan die presidents- en algemene verkiesing teen die einde van November deel te neem.
Die sowat 560 registrasiepunte sal vanaf 08:00 tot 19:00 oop wees en Namibiërs wat sedert die laaste registrasieproses in 2003 agtien jaar geword het, kan registreer.
Die registrasiekaarte van 2003 is vir tien jaar geldig, maar as kiesers intussen na ’n ander kiesafdeling verhuis het, moet hulle weer registreer.
Voorts moet voornemende kiesers wat hul registrasiekaarte verloor het of diegene wie se vanne intussen verander het, byvoorbeeld deur huwelike, ook by die registrasiepunte aandoen.
Die Verkiesingskommissie het sowat 3 000 amptenare wat die registrasiepunte landwyd sal beman om te verseker dat Namibiërs hul demokratiese reg kan uitoefen as stemdag teen die einde van die jaar aanbreek.
“Namibiërs moet registreer om hul stemme by die verkiesing uit te bring. Daar is twee weke vir die bykomende registrasieproses opsy gesit en ons doen ’n beroep op die inwoners wat nog nie geregistreer is om nou van die geleentheid gebruik te maak,” het mnr. Theo Muroro gesê.
Voornemende kiesers wat gaan registreer, moet ’n bewys van identiteit, ouderdom en burgerskap kan toon. Dit sluit onder meer in dokumente soos ’n identiteitsdokument of paspoort.
Indien geen dokumente beskikbaar is nie, kan die voornemende kieser twee geregistreerde kiesers neem wat kan getuig dat die persoon wel ’n Namibiër is en 18 jaar of ouer is. Om vir die munisipale verkiesings van aanstaande jaar te registreer, moet voornemende kiesers bewys kan lewer dat hy/ sy vir twaalf maande of langer op ’n spesifieke dorp woon.
Dit kan gedoen word deur telefoon- of waterrekeninge te bring wat kan aandui dat die persoon wel vir 12 maande of langer in die munisipale gebied woon.
Registrasiemateriaal is gister reeds landwyd na punte versprei.
|