24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

5.03.2010

Kiesklagte val

• Prosedure kelder meriete

© Theo Gurirab
Namibian Sun, die jongste toevoeging tot die DMH-publikasies Republikein en Allgemeine Zeitung, is tot na donker gisteraand nog deur inwoners van die stad opgeraap nadat die weekblad ’n spesiale mini-uitgawe oor gistermiddag se uitspraak in die verkiesingsaak onder duisende pendelaars in Windhoek versprei het. Die uitgawe het ook ’n bonus oor Woensdagaand se geskiedkundige wedstryd tussen Namibië se Brave Warriors en Bafana Bafana, die Suid-Afrikaanse gashere van die 2010 Wêreldbeker-sokkertoernooi, in die aanloop tot die sportskouspel bevat. Die unieke prestasie van Namibian Sun-personeel en die tegniese samewerking van Newsprint Namibia het beteken dat die weekblad op een dag twee koerante kon publiseer om hul duisende lesers op hoogte van die jongste nuus op staatkundige en sportgebied te hou.

DIE doodskoot vir die verkiesingsaansoek deur nege opposisiepartye om die November 2009-verkiesings ongeldig te laat verklaar, was die traak-my-nieagtige houding van die regspan van die opposisiepartye wat meer as ’n uur en ’n half ná die kantoor van die registrateur reeds gesluit was vir sake, by die hof opgedaag het om die hofstukke te liasseer.

Die nie-insluiting van die verkiesing vir die President in die eerste hofstukke, waarin net gevra word dat die verkiesing van lede van die Nasionale Vergadering ongeldig verklaar word, was die end. Hierdie tegniese uitklophoue het gister daartoe gelei dat Regterpresident Petrus Damaseb en Regter Collins Parker nie anders kon as om teen die aansoeke van die opposisiepartye uitspraak te lewer en boonop die las van die respondente se regskoste op hulle te laai nie.

In die uitspraak word geensins verwys na die bewyse waarmee opposisiepartye vorendag gekom het waar die Verkiesingskommissie nie die bepalings van verkiesingswet nagekom het nie. Die hof kon nie eens hierdie argumente oorweeg nie, omdat die indiening van die dokumente onwettig was.

In sy uitspraak sê Regterpresident Damaseb: “Die gesindheid wat namens die aansoekers getoon is oor of enige kondonasie vereis is, versterk my mening: Kondonasie is in die hof se diskresie en om dit te regverdig, moet ’n litigant goeie rede en bona fides wys. Die aansoekers het kennis gedra van die respondente se punt in limine toe die beantwoordende eedverklaring op 12 Februarie geliasseer is en die repliek eedverklarings wat op 19 Februarie geliasseer is. Die aansoekers het egter volgehou dat die eedverklarings behoorlik op 4 Januarie 2010 geliasseer is. Geen poging is aangewend in die repliekstadium om die hof se kondonering in enige vorm of aard te soek nie. Omdat die aansoekers se regsverteenwoordigers van mening was dat dit nie nodig was nie, is geen substantiewe aansoek om kondonering geliasseer, waarin die redes aangevoer word hoekom die aansoekers hul eedverklarings laat ingedien het nie, ten einde die hof in staat te stel om behoorlik oor die saak te dink nie.”

Die Regters het ook bevind dat die registrateur van die hof onbehoorlik opgetree het om die eedverklarings op 4 Januarie te aanvaar.

Regterpresident Damaseb sê in sy uitspraak dat die aansoekers strydig met die wet opgetree wat van hulle vereis het om in die gefundeerde eedverklarings daardie buitengewone omstandighede wat hulle ongeoorloofde gedrag sou verskoon, uiteen te sit. Hy verwerp ook adv. Reinhard Tötemeyer se argument dat hulle nie nodig gehad het om die buitengewone omstandighede vir die laat indiening uiteen te sit nie.

Aangesien die verkiesing vir ’n president nie in die aanvanklike hofsaansoek ingesluit is nie, maar eers op ’n latere tydstip ter sprake gekom het toe uitbreidende dokumente geliasseer is, is aangevoer as rede hoekom die betwisting van dié verkiesing ook nie deur die hof in ag geneem kon word nie.

Regterpresident Damaseb het in dié verband veral verwys na die feit dat geen sekuriteite deur die aansoekers betaal is vir die oorweging van die verkiesing se geldigheid nie.

Tydens die verhoor het Regterpresident Damaseb die regsverteenwoordiger van die opposisiepartye, adv. Reinhard Tötemeyer, gevra of dit nie vergelyk kan word met iemand wat betaal om met ’n taxi van Windhoek tot in Okahandja te ry en dan verseg om op Okahandja af te klim, maar daarop aandring om na Katima Mulilo geneem te word nie.

“Geen verdere prosedures sal gevolg word ten opsigte van ’n verkiesingsaansoek waarvoor die sekuriteite nie betaal is nie. Die aansoekers se antwoord dat die sekuriteitkwessie betwisbaar is omdat nie een van die respondente wat bygevoeg is die aansoek teengestaan het nie, is sleg in die reg,” het Regterpresident Damaseb gesê.