2.10.2008

Khomas-grote haal rekordboek

© Wisdom
Namibië spog met ’n nuwe trofeerekord vir luiperds. Dié knewel is verlede maand op ’n plaas in die Khomas Hochland geskiet – die grootste luiperdtrofee nóg in Namibië en agtste op die wêreldranglys van Safari Club International. Mnr. Gerard Erasmus van Sumsare Safari’s was die professionele jaggids en mnr. Brad Smith van Amerika het die luiperd platgetrek.
DIT is nie aldag dat ’n jagter van ver oor die waters na Namibië kom en terugkeer na sy geboorteland met die grootste rekorddier wat nóg in Namibië geskiet is nie. Vir mnr. Brad Smith van die Verenigde State van Amerika, was die eer om die grootste trofeeluiperd nóg in Namibië te skiet ’n onvergeetlike ervaring.

Onder leiding van mnr. Gerard Erasmus van Sumsare Safaris, is die luiperd verlede maand op ’n plaas in die Khomas Hochland platgetrek. “Mnr. Ludy Engels van die plaas Gurub het my geskakel om ’n probleemluiperd vir hom te kom skiet. Die spesifieke luiperd pla hom al lankal en was een van die grootste redes vir sy verlies van sowat 50 kalwers per jaar,” het mnr. Erasmus aan Republikein gesê.

Mnr. Erasmus, ’n geregistreerde professionele jagter, het die luiperd vir sowat twee maande gemonitor om ’n patroon uit te werk van waar hy verkies om te bly. Dit het daartoe bygedra dat die luiperd suksesvol gejag is.

Volgens Safari Club International, onder wie Namibië se jagbedryf erken word en een van die gesogte maniere wat jagters wêreldwyd kies om van rekord boek te hou, is dié die grootste trofeeluiperd wat nóg in Namibië geskiet is en word dié luiperd as die agtste grootste trofee ter wêreld geklassifiseer.

Die deursnee van die skedel van die luiperd is 18-en-’n-kwart duim (meer as 46 sentimeter). Hy het 82 kg geweeg en is 2,2 meter lank. Die luiperd was sowat 10 jaar oud. “Die luiperd is binne die perke van die wet en met die nodige permitte geskiet.” Hy het verduidelik dat ’n permit van die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (Cites) van die land waarheen die trofee uitgevoer moet word, verkry moet word.

“Sonder dié permit kan Namibië nie ’n uitvoerpermit uitreik nie.” Die Cites-permit is nodig omdat luiperds ’n beskermde diersoort in Namibië is. Mnr. Erasmus, wat grootliks in luiperdjag spesialiseer, het gesê boere wat jaarliks veeverliese as gevolg van luiperds ervaar, wend hulle maklik tot ysters en vanghokke om van die diere ontslae te raak.

“Ek doen ’n dringende beroep op boere om my eerder te skakel sodat ons aan ’n alternatief kan werk.” Mnr. Erasmus kan bereik word by 081 128 5686 gerard@sumsare. net.