Khoisan se taal- en kultuurspoor gevat

WIE van die Bantoe- of Khoisan-volk het eerste landbou beoefen en watter van die twee breë groepe het die grootste invloed op mekaar gehad?
Hierdie was die ontwykende kernvrae in 'n onlangse lesing deur dr. Rainer Vossen van die Johan Wolfgang Goethe Universiteit in Frankfurt, Duitsland wat by die Namibiese Wetenskaplike Vereniging in Windhoek as gasspreker opgetree het. Hy het gepraat oor die onderwerp: "Tale van die woestyn en wat dit van SuiderAfrika se geskiedenis vertel."
Die huidige aantal sprekers van Bantoe-en Khoisan-tale, die aantal tale op sigself en die maatskaplike aansien en politieke gewig van sprekers, dui volgens dr. Vossen op 'n wanbalans tussen dié groepe.
Tale in die substreek - behalwe dié met Europese of Asiatiese wortels - word tradisioneel verdeel in twee families: Bantoe en Khoisan. Tans is daar ongeveer 100 Bantoe-tale met 'n totale sprekertal van sowat 75 miljoen mense, in vergelyking met 30 Khoisan-tale met geskatte 250 000 sprekers.
Byna een derde van suidelike Afrika se Bantoe-tale geniet amptelike of semi-amptelike status, terwyl net één Khoisan-taal in dieselfde groep val, naamlik Nama/Damara of Khoekhoegowab in Namibië. Die meerderheid Bantoe-tale raak volgens dr. Vossen steeds tweede tale, terwyl dit in Khoisan weer net die geval is met Khoekhoegowab, wat vier vyfdes van alle Khoisan-sprekers uitmaak.
Die hedendaagse sosio-taalkundige situasie was egter nie dieselfde in die verre verlede nie. Dit het stelselmatig oor tydperk van 2 000 jaar of langer ontstaan toe die eerste Bantoe-immigrante uit die verre noorde in die streek aangekom het.
Volgens dr. Vossen het hierdie volksverskuiwing tot die gedeeltelike vernietiging, verskuiwing en absorbering van Khoisantale gelei. Maatskaplike verdrukking en die stigmatisering van die inheemse Khoisansprekende bevolking het hand aan hand hiermee geskied.

Wie het eerste landbou beoefen?
Die bestudering van leenwoorde is belowende tegniek om die taalkundige sy van kultuurkontak geskiedkundig te ontleed.
Sulke pogings ondervind volgens dr. Vossen egter dieselfde probleme as wat met die argeologiese vertolking van kultuurerfenis teëgekom word. Die strydpunt lê daarin of taalinligting wat in die 'nou' bekom is, sonder meer op tydvakke in die verlede geprojekteer kan word en of die huidige lewenswyse en kulturele patrone van jagter-versamelaars op 'n ononderbroke wyse hul prehistoriese kulture weerspieël.
Op die taalfront lees dié vraag soos volg: "Kom die aanneem van 'n leenwoord neer op die aanneming van die vaardighede en kennis wat daarin opgesluit lê, en neem die ontvangende gemeenskap dus in die proses ook die praktyke en gewoontes van die skenkergemeenskap aan?"
As dit nie bewys kan word dat 'n kultuurelement geleen is nie, raak dit moeilik om dit as "oorspronklik" en "inheems" aan die betrokke gemeenskap te beskou.
Een van die kernvrae in Suider-Afrikaanse konteks is die oomblik waarop of die proses waartydens 'n suiwer jag- en versamelbestaan plek gemaak het vir die ekonomiese stelsels van landbouers en herders.
Hoewel argeologiese vondse dit moontlik maak om die aanvang van aktiwiteite wat tot die Jong Steentyd behoort met redelike sekerheid af te baken, is daar nog geen ondubbelsinnige antwoord watter van die bydraende gemeenskappe, Bantoe of Khoisan, hierdie oorgang aangedryf het nie.
Vroeë reisigers soos Siegfried Passarge en Franz Seiner het reeds opgeteken dat die //Anikhoe (die "rivierboesmans" van die Okavango-delta) 'n groot verskeidenheid ekonomiese aktiwiteite nagejaag het. Hulle het nie net gejag en versamel nie, maar ook landerye bewerk, vee aangehou en vis gevang. Ander bedrywighede as jag en versamel figureer duidelik in die woordeskat van dié groep en Khoe-tale van Botswana en omliggende gebiede. Dit word deur argeologiese vondse uit die tydperk 50 v.C. tot 450 onderskryf. Die vraag is egter in watter mate die voorgangers van die San hierby betrokke was.

Die Khoisan: nie net jagterversamelaars
Oswin Köhler was die eerste wat in taalgeskiedkundige konteks voorstander was van die waarskynlikheid van vroeëre kontak tussen Khoisan-sprekers en herders en akkerbouers.
Sy 1966-ondersoek na verbande tussen die Khoe van die Caprivi en die Khoekhoe ("hottentotte") se woordeskat stel voor dat dié groepe se voorsate 'n gemengde bestaansekonomie bedryf het. Ehret het daarna stap verder gegaan deur voor te stel dat veeboerdery terugdateer tot voor die Bantoe se aankoms en dat hierdie nuwe taalgroep in beginsel hul kennis op dié gebied aan die Khoe te danke het.
Hoe aanvegbaar die hipotese ook mag wees, benadruk dr. Vossen dat minstens een Khoisan-gemeenskap gevestigde vaardighede op die gebied van veestapels, landbou en kunsvlyt gehad het en dat hierdie kennis duidelik uit hul taal blyk.
Daar het byvoorbeeld woorde bestaan vir landery of tuin (!hana), veekraal (!hada), koei of bees (goma), om te omhein (ã), skaap (guu), visvang ('au) en die smelt van metaal (qa). Anikhwe bevat op sigself 'n groot aantal terme oor visvang.
Hierdie taalkundige bewyse dien volgens dr. Vossen nie om die San se verlede te herinterpreteer as dié van landbouers nie, maar om die statiese siening dat hulle slegs jagter-versamelaars was, te help weerlê. "Ons moet hierdie mense dus eerder beskou as gemeenskappe met 'n oorwegende snuffelekonomie wat in die verlede en hede deur ander oorlewingstrategieë soos veeteelt en landbou aangevul is."

Kontak tussen Bantoe- en Khoisansprekers
Weens die lang duur van hierdie ontmoeting is dit volgens dr. Vossen nie verbasend dat die twee baie verskillende taalfamilies spore by mekaar gelaat het nie.
Hierdie nalatenskap, buiten vir onlangse invloede, lê interessant genoeg hoofsaaklik in Bantoe-tale. Khoisaninvloede het egter net enkele van dié tale bereik en hoofsaaklik met klank en woord.
Hoe kan mens so seker wees dat die Bantoe by die Khoisan geleen het en nie andersom nie? Volgens dr. Vossen is dit omdat die twee taalgroepe noemenswaardig in struktuur verskil.
Nguni, Suid-Sotho, Yeyi en Mbukushu/Gciriku bevat byvoorbeeld duidelik klik-elemente, terwyl Nguni ook woordelemente uit Khoi en San oorgeneem het. Yeyi het op sy beurt by //Ani/Buga geleen.
Die afwesigheid van Bantoeneerslae in Khoisan-tale kan volgens dr. Vossen beteken dat hierdie spore saam met sekere tale vergaan het.
Omdat tweetaligheid hoogs waarskynlik deel was van die kennismaking tussen die twee groepe, kon taaloorheersing deur Bantoe-sprekers met tyd tot 'n algehele taalverskuiwing gelei het. Stabiele tweetaligheid impliseer 'n hoë vlak van maatskaplike integrasie tussen die hoofgroepe, byvoorbeeld deur onderlinge trouery.
Die feit dat intensiewe kontak in die geval van Tswana nie tot taalneerslae in Bantoe-tale gelei het nie, kan volgens dr. Vossen spruit uit die afwesigheid van samebindende kragte wat stabiele tweetaligheid onderlê.
Hy glo die antwoord lê in groter klem op die navorsing van mense se maatskaplik-taalkundige agtergrond - die hoofbepaler van die uitslag van taalkontakte - eerder as in die struktuur van tale opgesluit.