24.07.2008
Keiser eis van kerk
DIE knellende ekonomiese toestande in die land is besig om sy tol te eis en nou het die balju toegeslaan op een van die grootste kerke weens aansienlike agterstallige skuld. Die Evangeliese Lutherse kerk in Namibië, ELCRN, het pas ’n finale aanmaning gekry oor die betaling van altesaam N$620 502.59 weens agterstallige bydraes aan die Maatskaplike Voorsorgkommissie, die SSC.
Die kerk staar ’n tweede regsaksie in die gesig weens sy versuim om inkomstebelasting van tussen N$1,4 miljoen en N$2,6 miljoen aan die Ontvanger van Inkomste oor te betaal. Hierdie agterstallige statutêre betalings dateer so ver terug as 31 Julie 2001. Die direkteur van finansies van ELCRN, mnr. Leonard de Vries, het gister bevestig dat hy reeds die finale eisbrief van die SCC in ontvangs geneem het en dat ’n oudit-ondersoek nou van stapel gestuur gaan word na die agterstallige belastings.
Mnr. De Vries sê hierdie toedrag van sake by sy kerk hou nie verband met ’n “finansiële krisis” nie, maar eerder ’n “kontantvloeiprobleem.” Die Maatskaplike Voorsorgkommissie het reeds op 23 April deur sy korporatiewe regsverteenwoordiger, me. E.A. Keramen, ’n skrywe aan die kerk oor sy agterstallige rekening gerig.
Volgens dié brief skuld ELCRN altesaam N$244 935.59 aan maatskaplike voorsorgbydraes vir die tydperk vanaf 31 Julie 2001 tot 31 Maart 2008. ’n Verdere bedrag van N$375 567 is aan die SCC verskuldig ten opsigte van rente op die agterstallige geld. Die kerk is tot 6 Junie kans gegun om die geld te betaal, maar niks het gebeur nie.
Ook ten opsigte van persoonlike belasting wat maandeliks van werknemers se salarisse afgetrek word, het die kerk sedert 2004 versuim om hierdie geld aan die Ministerie van Finansies oor te betaal. ELCRN het op die oomblik altesaam vyftig amptenare en 179 koshuis- en kindertuinwerknemers wat salaris ontvang, 110 pastore en 12 diakoniste landwyd in diens.
“Ek het nog geen hofstukke gekry nie, maar het gister die eis vir betaling ontvang, maar hierdie situasie kom nou al sedert 2004 aan dat die geld nie oorbetaal is aan die SCC nie. “U weet die kerk het nie sy eie bron van inkomste nie en ons is afhanklik van skenkings van die buiteland en natuurlik ook bystand met ons begroting.
“Ek is nog net ’n jaar in hierdie posisie en het al hierdie probleme so geërf en ek doen my bes, ons probeer al van die begin van die jaar af om die saak te beredder,” het mnr. De Vries gister gesê. Volgens hom sal die aangeleentheid nou regstreeks met die SCC opgeneem word. Mnr. De Vries sê dieselfde geld ten opsigte van die skuld aan die Ontvanger van Inkomste. “Die huidige administratiewe bestuur is besig om geen steen onaangeroer te laat nie om hierdie saak reg te stel.
“Die ouditeure gaan binnekort inkom en hulle sal ons van die regte bedrae kan voorsien. Ek het nog geen finale syfers voor my nie,” het hy verduidelik. “Ons probeer ons uiterste bes om hierdie geld in te kry en die meeste van ons kerk se lede weet dat ons ons geld uit die buiteland kry en dit word nie in een bedrag oorbetaal nie. Die gevolg is dat ons nie weet wanneer ’n oorbetaling gedoen word nie en dit veroorsaak soms ’n kontantvloei-probleem,” het mnr. De Vries gesê.