
Dr. Albert Kawana
DIE sekretaris-generaal van Swapo se vakbondfederasie, mnr. Evilastus Kaaronda, is gister deur ʼn ministeriële verklaring in die hoogste wetgewende gesag, die Nasionale Vergadering (NV), tot orde geroep.
Die grondwetlike raadgewer en Waarnemende Prokureur-generaal asook Minister van Presidensiële Aangeleenthede, dr. Albert Kawana, het gesê hoewel die reg op vryheid van spraak elke Namibiër se grondwetlike reg is, het onlangse aanvalle op die regbank die grense van aanvaarbare kritiek oorskry.
Regters en die regbank het die afgelope dae veral oor die huurarbeiduitspraak in die Kaarondavisier beland. In ʼn onverwagte stap het dr. Kawana gister in die NV in ʼn ministeriële verklaring ʼn sterk waarskuwing gerig aan diegene wat nie die onafhanklikheid van die regbank respekteer nie.
Alle moontlike stappe sal volgens hom in die toekoms gedoen word om te verhoed dat enigiemand inmeng by wetstoepassers en regters wat hul pligte uitvoer. Hy het daarop gewys dat talle voorvalle in die jongste verlede in die media gerapporteer is waar opmerkings ongelukkig in die openbaar gemaak is teen die persoon van regters wat uitsprake in die Hoëren Hooggeregshof gelewer het.
In sy verklaring het hy spesifiek ook verwys na die uitspraak oor huurarbeid waaroor mnr. Kaaronda destyds baie te sê gehad het.
“Die NUNW sal nie toelaat dat die hoogste offers gebring deur die helde en heldinne van ons vryheidstryd tot niks verlaag word deur ʼn onsensitiewe, vernederende, misplaaste, reaksionêre Hooggeregshof- uitspraak nie ...“, het hy daaroor gesê.
Vroeër het mnr. Kaaronda ook ‘n kommisie van ondersoek na die gedrag en onpartydigheid van regters en self die Regsdienskommissie gelas. Dié eis van die NUNW het gister ook ‘n skoot koue water uit dr. Kawana se demokratiese kruik gekry met sy verklaring dat diegene met amptelike besware, dit aan die Regsdienskommisie kan rig.
“Die beweringe van konflik van belange wat teen regsplegers gemaak word, word in ‘n baie ernstige lig deur die Regsdienskommissie beskou,” het hy gewaarsku.
Dr. Kawana beklemtoon dat regters wat op die Namibiese regbank dien, deur die President aangestel is op aanbeveling van die Regsdienskommissie. As sodanig is die regbank ‘n instelling wat grootliks op die uitvoerende gesag steun om toe te sien dat regsuitsprake afgedwing word, het hy gesê.
“Selfs die regbank aanvaar die grondwetlike reg van vryheid van spraak wat ook die reg het om die regbank as instelling te kritiseer. Die beginsel word ten volle erken en gerespekteer omdat daar in ʼn demokrasie, geen heilige koeie is nie. Kritiek moet egter op so ʼn wyse gedoen word dat ons nasie nie sy vertroue in die regstelsel verloor nie. Persoonlike aanvalle op individuele regters moet vermy word,“ het hy gesê.
“Alle staatsinstellings sal voortaan gebruik word om die nodige hulp aan howe te verleen om hul onafhanklikheid, waardigheid en doeltreffendheid te beskerm,” het dr. Kawana die versekering gegee.