23.11.2009 Kaura spoeg vuur
 Mnr. Katuutire Kaura (heel links) en van sy ondersteuners voor die DTA-partybus op Rehoboth.
DIE president van die DTA, mnr. Katuutire Kaura, het ’n striemende aanval geloods op President Hifikepunye Pohamba in sy hoedanigheid as die president van Swapo, dr. Hage Geingob sy adjunk, en dr. Elijah Ngurare, die sekretaris van Swapo se Jeugliga.
Hy het die President beskuldig van sy betrokkenheid by die toekenning van ’n Chinese beurs aan sy dogter, vir dr. Geingob oor sy onlangse uitsprake oor Jonas Savimbi, en dr. Ngurare omdat hy sou beweer het dat die mense in die land nie vir die Republiek van Namibië stem nie, maar vir Swapo.
“Pres. Pohamba het verlede week in ’n weeklikse tydskrif die toekenning van Chinese beurse verdedig terwyl hy hom voorheen uitgespreek het rakende die bekamping van korrupsie. “Is die toekenning van ’n beurs aan sy dogter verdedigbaar, of is dit nie korrupsie nie?” het hy gevra toe hy sy laaste vergadering voor die verkiesings die week op Rehoboth toegespreek het.
Wat dr. Geingob betref, het hy gesê dat die verwysing na Savimbi in die Namibiese konteks nie geregverdig kan word nie.
“Die visepresident van Swapo het verlede week gesê dat vrede na Angola gekom het na Savimbi se dood. In Namibië is daar geen oorlog nie, nou vir wie teiken hy, wie wil hy uitskakel om die sogenaamde vrede onder die reeds vredeliewende Namibiërs te bewerkstellig?,” het hy gevra.
Met verwysing na dr. Ngurare het hy sy misnoeë uitgespreek omdat hy volgens hom sou gesê het dat Namibiërs stem om Swapo aan die bewind te kry, en nie vir die Republiek van Namibië vir die saamstel van ’n land se regering nie.
“Beteken dit dus dat ons in die republiek van Swapo leef, en nie in die Republiek van Namibië nie?” het mnr. Kaura gevra.
Hy het voorts gesê dat hy NamWater gaan ontbind en die funksies daarvan ’n verantwoordelikheid van die Regering gaan maak, sou sy party aan die bewind kom. Daardeur gaan hy die lewensomstandighede van die swakker lede van die gemeenskap soos bejaardes, siekes en armes verbeter met goedkoper voorsiening van water.
“Die DTA sal voorts die pensioengelde van die bejaardes tot N$1 200 verhoog, soos wat ek in die verlede vir verhoogde pensioene gepropageer het,” het mnr. Kaura gesê.
Hy het Namibiërs versoek om hierdie week hul kruisies agter die DTA te trek.
|