25.07.2008 Katima maak skande by Staatshuis
PRES. Hifikepunye Pohamba het gistermiddag tevergeefs gewag vir die hoof uitvoerende beampte van die Katima Mulilo dorpsraad wat ’n afspraak met die President gehad het. Dr. Vincent Sazita moes die President on 15:00 gespreek het, maar teen 15:20 was daar nog geen taal of tyding van hom nie.
Amptenare van Staatshuis het vertel dat die President homself van ’n ander afspraak verskoon het om betyds by Staatshuis terug te wees om die besoeker uit Caprivi te ontvang. Staatshuis personeel het hierop dr. Sazita geskakel om te hoor waar hy is. Hy het hulle meegedeel dat hy vervoerprobleme het en nie gister in Windhoek sou kon wees nie.
Wat amptenare warm onder die boordjie gemaak het, is dat dr. Sazita nie self die moeite gedoen het om vooraf verskoning te maak en die afspraak te kanselleer nie. “Hierdie optrede is disrespekvol teenoor die Staatshoof,” het een van die amptenare opgemerk.
|