
Mnr. Frans Kapofi
ONAFHANKLIKHEIDSVIERINGE is bedoel vir alle Namibiërs wat, vanuit ’n verlede van konflik en gewapende stryd, vandag verenig is in ’n nasie wat reeds vir 20 jaar in vrede en politieke stabiliteit saamleef.
Dit is die boodskap van die sekretaris tot die Kabinet, mnr. Frans Kapofi, wat ook die voorsitter van die nasionale reëlingskomitee vir vanjaar se onafhanklikheidsvieringe is.
“Dit is belangrik dat ons mense opdaag in ons nasionale kleure. Ek wil nie van rasse praat en verwys na wit Namibiërs nie, ek bedoel alle Namibiërs, moet deel wees van die vieringe. Dit is nie genoeg om te sê ons lewe goed nie. Ons moet deel word en as nasie ons diversiteit wys by ons onafhanklikheidsherdenking,” het mnr. Kapofi gesê.
“In die verlede het ons swaar tye verduur, alles gesien van militêre konflik, gevegte waarin politici mekaar wedersyds beskuldig het, stryd van broer teen broer en vaders teen seuns. Ons het egter geleer hoe om ten beste in harmonie saam te leef.
Die Minister van Handel en Nywerheid, dr. Hage Geingob, sê ‘vrede is vervelig’, maar vir ons kan dit nooit vervelig wees nie. Vir te lank het ons in omstandighede geleef wat nie vreedsaam was nie. Ons het geleer dat ons noodlot saamgebind is. Namibië is die enigste tuiste wat ons almal het. Van ons was vlugtelinge, staatloos, sonder ’n heenkome. Ons wil nie hê dat dit ooit weer gebeur nie,” het mnr. Kapofi gesê.
Met die vieringe op Sondag 21 Maart sal die hoogtepunt die inhuldiging van Pres. Hifikepunye Pohamba vir sy tweede ampstermyn wees. Hierbenewens sal die nasionale saluut deur die weermag gegee word en omdat die dag op ’n Sondag val, sal kerke ook ’n groter rol as gewoonlik speel.
Genooide gaste sal ’n noenmaal bywoon en elke Namibiër wat in die Onafhanklikheidstadion vergader om deel van die feesvieringe te wees, sal vir middagete ’n kospakkie ontvang. Die middag sal ’n sokkerwedstryd tussen Namibië se Brave Warriors en die nasionale span van Botswana gespeel word.
Heelwat vermaaklikheidsgroepe en kunstenaars is ook bestem om die skare met musiek en sang te vermaak.
Van die spesiale gaste wat genooi is om die feestelike dag met Namibië te deel, is al die staatshoofde van lidlande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC); voormalige staatshoofde soos oudpres. Kenneth Kaunda van Zambië, Ketumile Masire en Festus Mogae van Botswana, Thabo Mbeki van Suid-Afrika en Joachim Chisano van Mosambiek.
Die man wat in 1989 deur die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, mnr. Perez de Cuellar, as sy spesiale verteenwoordiger na Namibië gestuur is om Resolusie 435 van die Veiligheidsraad te implementeer, en wat later president van Finland geword het en in 2008 met die Nobelprys vir vrede vereer is, mnr. Martti Ahtisaari, is ook een van die eregaste.
Die weduwee van oudpres. Agostino Neto van Angola asook dié van oudpres. Julius Nyerere van Tanzanië is ook na die vieringe genooi.