
Joost van der Westhuizen verlede week op Stampriet waar hy as motiveringspreker met die leerlinge van die Privaatskool Elnatan en hul ouers oor sy lewensbeskouings gepraat het. Hy en sy vrou, Amor, is glo baie verlief en gelukkig.
DIE skool- en plaasgemeenskap van Stampriet was aan die voorpunt van ’n beeldbou-toer wat einde voorverlede week vir die oud-Springbok Joost van der Westhuizen en sy sangeresvrou, Amor, oor ’n bottel vonkelwyn op ’n boot in die V&A Waterfront in Kaapstad geëindig het.
Volgens die Stamprieters is daar ondanks die seksvideo-beweringe en die bekentenis van ’n oudatleet dat sy ’n intieme liefdesverhouding met Joost gehad het, geen teken van spanning tussen die Van der Westhuizen-egpaar nie. Trouens, hulle het ’n wonderlike verhouding met mekaar, sê mnr. Dawie O’Callaghan, skoolhoof van die Privaatskool Elnatan. “Tydens ons kuier die aand het hulle selfs gespot oor die hele storie.
Hulle was pragtig. En regtig, daar is nie ’n teken van spanning tussen die twee nie.” Die skool het die paartjie al verlede jaar uitgenooi om by die skool te kom optree as deel van ’n pretdag waarmee die graad 11’s geld wou insamel vir die matriekafskeid later vanjaar. “Toe ons van al dié goed in die koerante lees, het ek vir die ouers gesê ons moet versigtig wees om ons nie aan bespiegelings te steur nie.
Ons het wel besluit dat as dit uitkom dié gerugte is waar, sal ons die deposito opoffer en hul besoek kan selleer. Ek het toe besluit om Amor se ma, wat hul agent is, persoonlik te bel en met haar te gesels. Sy het my verseker daar steek geen waarheid in die gerugte nie en dat Joost en Amor graag self aan ons alles sal wil verduidelik.” Joost en Amor se fooi vir hul optrede op Stampriet was N$27 000.
Dit het nie hul reis- en verblyfkoste ingesluit nie. “Joost het ’n praatjie met die o.19-rugbyseuns gehad en het die ouers en leerlinge ook later saam toegespreek oor sy siening van die lewe en dít waaroor dinge gaan. En Amor het die aand vir ons gesing.” Mnr. O’Callaghan sê hy was aangenaam verras toe die paartjie verlede Donderdagmiddag op Stampriet uit die motor klim nadat een van die ouers hulle by die lughawe gaan haal het.
“Ek het lanklaas so ’n plat op die aarde ou soos Joost gesien. Hy en Amor het met ons mense gesels en gekuier asof hulle jare al deel van hierdie gemeenskap is.” Hy sê daar is hegte bande gesmee en Joost wil Stampriet in April weer besoek. “Hy gaan kom jag en daar is ook ander planne in die pyplyn wat ek nie nou kan uitlap nie.
Hy het aangedui dat hy graag iets wil terugploeg in ons plattelandse gemeenskap,” vertel mnr. O’Callaghan. Joost en Amor het ná hul besoek aan Stampriet na Kaapstad gevlieg. Hulle is afgeneem toe hulle alleen en ontspanne op die boot Inala in die V&A Waterfront gevaar, vonkelwyn gedrink en die pragtige sonskyndag geniet het. Agterna is berig dat dit lyk asof Joost se huweliksbootjie ondanks die storm om sy kop in rustige waters vaar.