DIE pa van ’n twee maande oue babaseun en bekende in die Namibiese boubedryf, mnr. Johan Brand (foto), het tragies in ’n motorfietsongeluk gesterf. Volgens mnr. Brand se vriend en voormalige sakevennoot, mnr. Chris Engels, was hulle Woensdagmiddag net voor sononder op pad na die kus toe die ongeluk naby die afdraai van die Rock Lodge net buite Okahandja plaasgevind het.
“Joe het met sy BMW motorfiets gery en ek met my bakkie. Hy was so 15 minute voor my en ek het op die ongeluk afgekom.” Mnr. Engels sê sy vriend wou ’n vragmotor op die nat pad verbysteek en is vermoedelik deur die sakkende son en die watersproei van die vragmotor verblind.
Die vermoede bestaan dat die motorfiets gegly en mnr. Brand toe met die rytuig geval het. Mnr. Brand, 37 jaar oud, was die eienaar van Namslab en hy het op Swakopmund gewoon. Hy word deur sy vrou Elmie, sy twee meisiekinders Suané (7) en Mia (5), sy twee maande oue babaseun, Johan, en sy broer, Eghard, oorleef. Die begrafnisdiens sal komende Dinsdag plaasvind.