
Mnr. Muesee Kazapua
SWAPO se Jeugliga het lede van die regerende party by hul onlangse sentrale komiteevergadering op Okahandja herinner dat daar soos sake tans daar uitsien, net een opvolger vir Pres. Hifikepunye Pohamba is – dr. Hage Geingob.
Volgens mnr. Muesee Kazapua het die beraad kennis geneem van die huidige debat of dit dalk juis tyd is vir ’n nie-Oshiwambosprekende staatshoof.
Die Jeugliga se sentrale komitee het die etniese dimensie van die polemiek verwerp, hoewel daar onder sekere lede van die beweging groot steun is vir mnr. Kazenambo Kazenambo se idees en sy reg om homself vrylik uit te druk.
As mnr. Kazenambo voor stok gekry kan word, sê party senior leiers in die partyvleuel, moet ook me. Pendukeni Iivula-Ithana in belang van konsekwentheid aangevat word oor ’n beweerde volskaalse vakansieveldtog in die Noorde om steun vir haar aanslag op die posisies van partypresident en staatshoof te werf.
“Daar is geen vakature nie,” het mnr. Kazapua benadruk. Boonop sal enige sodanige besluit volgens hom streng volgens die grondwet, reëls en prosedure van die party geneem word en nie in die “sokkerstadion” van openbare opinie nie.
Die sentrale komitee het gewaarsku teen verdelende agendas, “soos in die tyd van mnr. Hidipo Hamutenya. “Ons het demokrasie in die party,” het mnr. Kazapua die beraad se besluite uitgelees. “Ons word gelei deur demokrasie. Ons doen ’n beroep op ons partyleiers om die riglyne te volg.”
Mnr. Kazapua het die opvolgingsdebat as “opportunisties, selfbedienend en voortydig” verwerp siende dat Pres. Pohamba nog nie eens vir sy tweede termyn ingesweer is nie.