
Freddy Gabriëlsen (links) sê Dina (met die kopdoek) se man, Kat (nie op foto), moet kom verduidelik hoe sy ou vriend Gert Nell Maandagaand doodgebrand het. Oom Alla de Klerk (middel) wys na die rivier waar Kat, wat veronderstel is om in die hospitaal te wees, die week gesien is.
JALOESIE en wraakgevoelens wat tydens ’n dronknes die gemoedere van die drinkers oorheers het, lê moontlik agter ’n huisbrand wat die lewe van Gert Nell (55) geëis het. Kat en Dina het die laaste tyd op die werf van Horst Klein langs Gert se eenkamerhuis geslaap en gewoon. Gedurende die dag bedel Dina geld by die winkels in Eros en wanneer die son sak gaan hulle huistoe om te eet en wyn te drink.
Maandag was dit weer so. Gert kon nie meer loop nie en Dina is gestuur om die wyn te gaan koop. Gert, Kat en Dina het vroegdag al begin drink. Laatmiddag het Horst vir hulle kos gebring en hy het saamgekuier. Teen middernag het die drinkers hulself uitgewoed, bed gemaak en gaan lê. Dina het met Kat oor ’n kombers gestry en toe sy weer wakker word toe sien sy hoe Gert se huis brand.
“Ek het gesien hoe Kat tussen die vlamme probeer om vir Gert regop te help sodat hy hom uit die huis kon dra. Kat het op die brandende bed geval, sy hemp het aan die brand geraak en hy het by die deur uitgehardloop,” vertel Dina. “Toe gaan maak ons vir oom Alla wakker om te kom help. Hy het vir Kat ’n brandblusser gegee, maar dit het nie veel gehelp nie.
Ek het vir Horst in sy kamer gaan roep en ons het met die tuinslang en emmers vol water gehardloop om die vlamme dood te gooi.” Al hul pogings om die vlamme te blus was te laat en Gert het op sy bed doodgebrand. “Dean het Dinsdag kom sê hy het vir my slegte tyding. Hy het gesê my ou vriend is dood, maar dat hy nie natuurlik gesterf het nie.
Dean het gesê ou Gert het in sy huis verbrand,” vertel Freddy Gabriëlsen. Freddy en Gert was vir 14 jaar lank vriende en hulle het gereeld by die huis saam met ’n roesemoes ander mense gedrink en gekuier. Hy vertel hy bly by sy suster in Olympia en dat hy net naweke by Gert gaan kuier het.
“Ons het Sondag nog saam gekuier. My suster het my later die dag kom haal en dit was die laaste keer dat ek vir Gert lewendig gesien het. Ek het niks weer van hom gehoor tot Dean met die slegte tyding opgedaag het nie.” Freddy sê Dina en Kat het gedurig met Gert baklei, want hulle was jaloers omdat hy alleen in die huisie gebly het.
Gert het die laaste tyd vir hulle begin sê hulle moet die werf verlaat, want hy soek rus en vrede. “As Dina dronk raak wou sy altyd vir Gert vry en dan het Kat jaloers geraak. Hy het altyd eers vir Dina uitmekaar geslaan en dan vir Gert in sy bed vasgedruk en sy oë toe geslaan.” Freddy sê Kat was Gert se oorlede vrou se kind. Die vrou is ’n jaar of wat gelede skielik dood. Wanneer die klomp saamgedrink het, het Kat blykbaar altyd vir Gert beskuldig dat hy sy ma se dood veroorsaak het.
Terwyl hy na ’n verbrande ou parafienlamp wys sê Freddy, hy vertrou nie die verduidelikings wat Dina vir hom gee nie. “Iemand is verantwoordelik vir wat hier gebeur het. Die skuldige sal boet. Waar is Kat? Hy is kammakastig in die hospitaal, maar die mense het hom hier in die rivier gesien. Hy moet kom sodat hy kan sê wat Maandagaand hier gebeur het.” Freddy, oom Alla en Dina het die week hul weergawe van ’n lykwaak op die werf gehou.
Hulle neem ook afskeid van Dina, want Horst het vir haar en vir Kat die trekpas gegee en haar sakke staan klaar gepak. Oom Alla is vir sy jaarlikse vakansie op pad Walvisbaai toe en dit maak die afskeid soveel hartseerder. Tussen die snikke deur en voor hy ’n lang teug uit ’n bottel Tassenberg vat sê Freddy: “Ek sal maar drink. Dit is al wat ek nou kan doen.”