Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


22 Februarie 2012

Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

3.01.2012

Jaaroorsig Desember 2011


Marlize Horn was met die pragtige aksiefoto die Desember-wenner van die fotokompetisie met die tema “vakansie” wat Republikein aanbied. Sy wen twee nagte vir twee mense wat deel by ’n Wilderness Safaris en/of Wilderness Adventure kamp in Namibië en kom ook in aanmerking vir die groot prys, ’n alles insluitende 4-dag safari met Wilderness Safaris na die Skedelkuspark. Die bekroonde fotograaf van die Allgemeine Zeitung, Dirk Heinrich, was die beoordelaar vir Desember.

Spoorlynkrisis… en beter punte
 
DIE laaste maand van 2011 word ingelui met die nuus oor treine wat die een na die ander ontspoor en die Kabinet tot dringende aksie laat oorgaan, asook die moord op ’n bejaarde boer van Rehoboth. Die maand se nuushoogtepunt breek egter aan met die bekendmaking van die matriek- en ander uitslae.

Uitslae verbeter
Die Ministerie van Onderwys is tevrede met die voortgesette opwaartse kurwe in die prestasie van voltydse graad 10’e en graad 12’s met vakke vir die Namibiese Senior Sekondêre Sertifikaat op Hoërvlak (NSSCH). Belanghebbendes moet egter aanhou om die opgang aansienlik te versnel, het dr. David Namwandi, Adjunkminister van Onderwys, gesê. “Ons het geen ander keuse nie.” Probleemgebiede wat dringende aandag sal geniet, is ’n aanhoudende insinking in deeltydse graad 10’e se uitslae en leerlinge se swak prestasie in rekeningkunde as vak vir die Junior Sekondêre Sertifikaat (JSC). Uit 35 640 voltydse graad 10’e kwalifiseer 18 372, of 51,5%, om voltyds met graad 11 voort te gaan.

Al is dit die beste slaagsyfer ooit sal ’n groot deel van die oorblywende 17 268 kandidate waarskynlik nie hul graad kan herhaal nie. Die land se 10 597 NSSCHkandidate het in 68,6% van hul 52 291 antwoordstelle ’n 3 of beter gradering gekry – die minimum vir universiteitstoelating.

Vyf treine het tussen einde November en vroeg in Desember in die omgewing van Otjiwarongo en buite Omaruru ontspoor. In twee van die voorvalle is groot skade gely toe brandstofwaens omgeslaan en duisende liter petrol en diesel uitgeloop het.

Spoorkrisis
Die Kabinet verklaar op 15 Desember dié dele van die spoorlyn tussen Kranzberg en Tsumeb waar vyf treine in ’n kort tyd ontspoor het, tot ’n nasionale noodtoestand. Ernstige vrae word gevra oor hoe dit gebeur het dat Namibië se spoornetwerk in so ’n vervalle toestand beland het en die Kabinet keur dringende ingryping goed. Dit beteken herstelwerk gaan dadelik begin.

Grumoord op bejaarde boer
Die vasgebinde lyk van mnr. Ernst Cloete (73) word op sy plaas Drie Riviere naby Rehoboth deur die polisie gevind nadat sy gesin hom as vermis aangegee het. Twee mans verskyn kort daarna in die hof op die dorp op klagtes van moord en roof.

Pasiënte in afsondering in die psigiatriese afdeling van die staatshospitaal op Oshakati lê op die kaal vloer en slaap. Toestande in die afdeling is skokkend en die omstandighede waaronder die pasiënte behandeling ontvang, haglik.

Skokbehandeling
’n Ondersoek deur Republikein bring die haglike omstandighede aan die lig waaronder pasiënte met geestesgesondheidsprobleme by die staatshospitaal op Oshakati behandel word.

Meatco versus Regering
Die Meatco-werkgroep kondig aan dat sy voorlegging vir die voorgestelde bedryfstruktuur en regsraamwerk daarvoor nie voorsiening maak vir aandele aan die Regering nie. Die Minister van Landbou, Water en Bosbou, mnr. John Mutorwa, beskuldig die nasionale vleisverwerker die volgende dag daarvan dat hy “aanmatigend” is en sê die finale besluit hieroor sal deur die Kabinet geneem word.

NamWater en Areva sluit ooreenkoms
’n Ooreenkoms oor die toekoms van die ontsoutingsaanleg by Wlotzkasbaken kan binnekort tussen NamWater en die Franse maatskappy Areva gesluit word. Die aanleg is die towerwoord vir die les van die woestyn se dors.

Intussen het mnr. Alain L’Hour, besturende direkteur van Areva se belange in Namibië, bekendgemaak dat met die ontwikkeling van die Trekkopje-uraanmyn voortgegaan sal word, ongeag die Franse mynreus se geldelike probleme. Geen afdankings gaan volg nie, het hy gesê. Bouery by die myn behoort teen die einde van 2012 voltooi te wees.

Die ligtoring op Swakopmund kan net so wel as die dorp se Kersboom dien – veral saans wanneer die rooi en wit danksy die beligting goed afgeëts is teen die donker naghemel. Die foto is deur Jermanneke Havemann ingestuur.
Desert Star gedagvaar
’n Dagvaarding vir die betaling van N$583 000 word deur die bode van die hof op Desert Star Land Holdings beteken. Die eis is deur TLP Investments 93, wat handel dryf as River Crossing Lodge, en sy agt aandeelhouers teen Desert Star ingestel omdat laasgenoemde nie ’n kontrak kon nakom wat verlede jaar gesluit is om die lodge te koop nie. Desert Star het vroeër erken dat hy geldelike probleme ondervind, maar hou vol internasionale finansiering gaan die droom van ’n rykmansoord by die Oranjerivier en permanente rolprentstelle in die omgewing, ’n werklikheid maak.

Air Namibia skuldig
Die Vervoerkommissie van Namibië bevind Air Namibia skuldig aan ’n oortreding van artikel 2 van die lugdienswet omdat die nasionale redery vliegtuie gebruik het voordat die vereiste lisensiëring voltooi was. Air Namibia word beboet met N$20 000, opgeskort vir 12 maande. Die uitspraak volg op die verhoor wat gehou is nadat Bay Air CC einde September verskeie klagtes teen Air Namibia by die Vervoerkommissie en department Burgerlugvaart ingedien het.




Die eerste padslagting vir die Kersvakansie het sowat 40 km buite Usakos op pad na Swakopmund plaasgevind. Drie mense is in die ongeluk oorlede, onder wie die bestuurder van die verfrommelde wit Polo. Die spoedmeter van die voertuig het op 200 km/h vasgeslaan.

Land verdrink in waterskuld
Die streekraad van Otjozondjupa vergader om ’n oplossing te vind vir die streek se waterrekening wat opgeloop het tot N$17 miljoen. Dit volg nadat NamWater bekendgemaak het dat die land besig is om in sy waterskuld van byna N$300 miljoen te verdrink.

Ná N$2 miljoen aan NamWater betaal is, word die Ministerie van Streek- en Plaaslike Owerheid, Behuising en Landelike Ontwikkeling gevra om aan Otjozondjupa, een van die swakste betalers in die land, ’n helpende hand te reik omdat dié streek nie weet waar hy die ander N$15 miljoen vandaan gaan kry nie.

Die polisie maak kort voor Kersfees bekend dat ’n hol metaalvoorwerp wat moontlik van ’n ruimtesatelliet of ander -toestel afkomstig is, gedurende November in die Omusati-streek neergestort het. Ruimteagentskappe is gekontak om die oorsprong te bepaal.

Wêreldnuus
 
■ Die Internasionale Kriminele Hof in Den Haag kla oudpres. Laurent Gbagbo van die Ivoorkus aan van moord, verkragting, vervolging en onmenslike optrede teenoor die mense van die land. Dit volg op die brutale aanvalle waarin sy volgelinge na beweringe probeer het om hom ná verlede jaar se verkiesing steeds aan bewind te hou.

■ Geweld neem toe in Sirië, waar oproeriges hul pogings verstewig om pres. Bashar al-Assad uit die kussings te lig. Meer as 4 600 mense het omgekom tydens die gevegte wat reeds 8 maande duur.

■ Japanse owerhede vind tekens van radioaktiewe besoedeling in formule-melk vir babas – nog een van ’n rits besoedelde voedselprodukte wat in die land opduik.

■ Nasa kondig aan dat die Keplersending wat na planete soortgelyk aan die aarde in die bewoonbare sone van sterre buite ons Melkweg soek, een gevind het waaroor ruimtewetenskaplikes baie opgewonde is. Kepler 22b beskik oor moontlik vastelande, oseane en lewende organismes net soos op aarde. Al nadeel – dit is 600 ligjare van hier geleë.

■ Drie vroue, van wie twee uit Afrika, wen die 2011 Nobelprys vir Vrede. Hulle is pres. Ellen Johnson Sirleaf van Liberië, Leymah Gbowee, Liberië se vredesvegter, en Tawakkul Karman, Jemen se Arabiese Lente-aktivis.

■ Die tydskrif Time wys “The Protester” aan as die 2011 Persoon van die Jaar. Die jaar is gekenmerk deur protes – van die Arabiese Lente tot die beweging wat Wall Street beset het.

■ Die laaste Amerikaanse soldate verlaat Irak.

■ Die Noord-Koreaanse diktator Kim Jong Il sterf op die ouderdom van 69 jaar. Hy was een van die ergste despote in die geskiedenis en die wêreld wonder angstig hoe sy seun en opvolger, Kim Jong Un, die kernkwessie gaan hanteer.

■ Die Internasionale Monetêre Fonds waarsku die wêreldekonomie bevind hom by “’n uiters gevaarlike kruispad”.
2011 se tien gewildste nuusvideo’s
 
1. Swakopvloed tref die see
2. Ontstoke Minister vaaruit teen koerant
3. Kroning van Mej. Namibië
4. Moordbroers uitgemeenskap verwyder
5. Swakoppoort loop steeds oor
6. Kaaronda comes under fire
7. Italiaanse vrou (66)sterf in ongeluk
8. Kaalbaskaskenadesop die strand
9. Luzaan op pad na Mej. Wêreld
10. Nuwe Evoque in Namibië
Sake en ekonomie
 
■ De Beers Marine Namibia verkry gelyke aandeelhouding in De Beers en kondig aan dat die maatskappy voortaan as Debmarine Namibia bekend sal staan.

■ Prosperity dank veertien mense af nadat die groep besluit het om nie langer korttermynversekering as deel van sy portefeulje te bied nie.

■ Die Windhoekse Buitekluboord (WCCR) kondig aan dat sy inkomste vir die finansiële jaar geëindig op 30 April 2011, met 4,8% gegroei het.

■ Fredy Piepmeyer word as Namibia Breweries Limited se meesterbrouer aangewys.

■ Bilaterale handel tussen Namibië en Duitsland was in 2011 aansienlik hoër as die vorige jaar, met ’n styging van sowat €50 miljoen.

■ NamPower sê hy sal oor die volgende sowat vyf jaar nagenoeg N$14 miljard aan kragopwekking en -verspreiding bestee. Namibië voer tans 60% van die elektrisiteit wat plaaslik verbruik word, uit die streek in.

■ Namdeb kondig groot planne aan om die myn se potensiaal en tegnologie sodanig te verbeter dat dit weer ’n wêreldklas mededinger kan wees.
2011 se tien mees gelese nuusberigte
 
1. Vloede verwoes vervoer by Karasburg
2. Namibië van storms
3. Gladiator-protes teen Angolese vroue
4. Jong vlieënier sterf
5. Passasiers spring ramp vry
6. Koue is hier
7. Dit sous en ganse land is sopnat
8. Polisieman, boer vertel van ongeluk
9. Skokmoord in stad
10. Sakevrou vas oor moordplan
Dag vir dag
 
01 → Die polisie verdedig op Wêreldvigsdag sy beleid om voornemende rekrute vir die polisie en weermag vir MIV/vigs te toets.

04 → Die eerste noodlottige padongeluk van die vakansieseisoen eis drie lewens in ’n kop-teen-kop-botsing sowat 40 km vanaf Usakos op die pad na Swakopmund.

07→ Rehoboth se omstrede burgemeester, Bartholomeus (Pietertjie) Pieters, word deur Swapo ontslaan en Eve Maasdorp word as die eerste vrou in die amp aangewys.

09 → Die Akkerbouraad kondig aan vanjaar se mielieoes van 63 391 ton was die beste ooit. Die gemiddelde opbrengs vir witmielies is 21 290 ton per jaar.

14 → Telecom Namibia se voorgenome oorname van leo, Namibië se tweede selfoonoperateur, kan volgens mnr. Joël Kapaanda, Minister van Kommunikasie en Inligtingtegnologie, ’n nuwe era van liberalisering inlui waarin die Regering sy oorheersende aandeelhouding in die mobiele belmark in heroorweging sal neem.

15 → Die Ombudsman, adv. John Walters, aanvaar ’n uitnodiging van Seal Alert SA in Kaapstad om die organisasie se rehabilitasiesentrum vir robbe te besoek.

18 → Die fotograaf en rolprentmaker Paul van Schalkwyk vertrek saam met sy seun, Henrie, na die Suidpool ter viering van ontdekkers se wedloop 100 jaar gelede ná die suidelike poolgebied. Van Schalkwyk is genooi om deel van die rolprentspan te wees wat die viering gaan dokumenteer.

19 → Die Ministerie van Landbou, Water en Bosbou kondig aan dat ’n ooreenkoms met China gesluit is om die weg vir die uitvoer van vis en vleis te baan.

21 → Kampeerders by Myl 72 en Myl 108 kom in opstand oor die swak dienste en weier om verder vir hul staanplekke te betaal.

22 → Susanne Hoff moet sterk wees vir haar 22-jarige dogter se onthalwe toe haar aansoek om borgtog deur landdros Justine Asino geweier word en sy hoor sy sal nie Kersfees óf Nuwejaar saam met haar twee kinders kan deurbring nie.

25 → Die Namibiese personeel by die land se hoë kommissariaat in Abuja, Nigerië, is ongedeerd ná die Kersdag-bomaanvalle op Christene.

27 → Ná dae se ronddwaal in die Ooste, veroorsaak ’n olifantbul uit Botswana groot konsternasie op Aminuis toe mense die grootvoet gewaar en hom met stokke en honde probeer verwilder.

29 → Die Teenkorrupsie Kommissie bevestig dat ’n klag gelê is teen die Tenderraad oor beweerde voortrekkery, onwettige gunste en smeertransaksies met die lewering van voorrade aan die land se sentrale regeringstore.