24.01.2012 Indië gee ja-woord
UIT Indië se hoogste bewaringskringe is amptelik bevestig dat die land wel Namibiese jagluiperds daar gaan hervestig.
Dr. Yadvendardev Jhala van die wildlewe-instituut van Indië het op navraag per e-pos teenoor Republikein bevestig dat die projek om Namibiese jagluiperds in Indië te hervestig, deur sy regering goedgekeur is.
“Dit is tans die siening van die Indiese regering en van omgewingskundiges om Namibiese jagluiperds in Indië te hervestig.
“Die projek is reeds deur beide die parlement en die kabinet goedkeur,” het Jhala bevestig.
“Ons wag nou slegs op die toekenning van geld om die projek operasioneel te maak.
“As alles volgens plan verloop, hoop ons om teen die middel van die jaar met die hervestiging van die jagluiperds te kan begin,” het Jhala gesê.
Volgens hom is daar drie plekke gekies om die jagluiperds oor ’n tydperk van drie tot agt jaar te hervestig. “Ons hoop om ’n minimum van 12 tot 15 jagluiperds by elk van die plekke vry te laat. Ons hoop om tien of elf jagluiperds in die eerste jaar by die eerste plek, die Palpur-Kuno-wildreservaat van 340 vierkante kilometer in Madhya Pradesh in te bring en dan soos nodig hul getalle oor die volgende vyf tot agt jaar aan te vul totdat die drakapasiteit van die Palpur-Kuno-gebied (sowat 35 tot 40 jagluiperds) bereik is,” het Jhala verduidelik.
’n Koerant in Nieu-Delhi, Hindustan Times, het Sondag berig dat Namibiese jagluiperds vanjaar in Indië hervestig gaan word. “Moenie jou vliegtuigkaartjie na Afrika bespreek om die vinnigste dier op aarde, die jagluiperd, te sien nie. Jagluiperds gaan vanjaar vanaf Namibië na Madhya Pradesh kom,” lui die berig. “Die ministerie van die omgewing en bosbou is gereed om die invoer van jagluiperds uit Afrika goed te keur.”
Nadat die Indiese minister van die omgewing en bosbou, mnr. Jairam Ramesh, verlede jaar in ’n onderhoud met Republikein in Nieu- Delhi aangedui het dat die land graag Namibiese jagluiperds in Indië wil hervestig, lyk dit of die hervestigingsplan wel kan realiseer.
Voorts speel die Jagluiperdbewaringsfonds (CCF) buite Otjiwarongo ’n groot rol in die voornemende uitvoer van Namibiese jagluiperds na Indië. Dit beteken dat Indië na 64 jaar dalk binnekort weer jagluiperds gaan hê wat vry in die natuur kan rondloop.
Dr. Laurie Marker van die CCF en verskeie omgewingskundiges van die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN) is in ’n raadgewende hoedanigheid by die projek betrokke. Marker is in 2009 na Indië genooi om deel te neem aan die land se program om jagluiperds te hervestig.
“Dit is nie ’n eenmalige ding nie, maar ’n voortdurende proses wat verbintenis verg,” het Marker gesê.
Die CCF is tans besig om tien jagluiperds voor te berei vir die moontlike uitvoer na Indië. Marker het Indië reeds ’n paar keer besoek om ’n geskikte habitat te vind waar die jagluiperds vry in die natuur kan beweeg. Haar laaste besoek was in Augustus.
Indiese bewaringskundiges het ook reeds besoek by die CCF afgelê om die fonds se internasionale kursusse oor jagluiperdbewaringbiologie en die geïntegreerde bestuur van lewendehawe, wildlewe en roofdiere by te woon, het Marker gesê.
Ramesh het die hervestiging van die jagluiperds as een van die opwindendste programme van sy ministerie beskryf. Indië het volgens die minister tans ’n bevolking van 400 leeus, 20 000 luiperds en 25 000 olifante. Die land beskik ook oor 600 nasionale wildparke.
|