23.11.2009 Hulle moet die room kry, sê Jeugliga
SWAPO-SAKELUI moet voor in die ry staan wanneer dit by die toestaan van tenders en die uitdeel van eiendom kom, sê die regerende party se Jeugliga en sy vakbondfederasie, die Nasionale Unie vir Namibiese Werkers (NUNW).
Die twee bewegings se leiers, dr. Elijah Ngurare en mnr. Evilastus Kaaronda, het ook opnuut ’n totale hersiening van die Tenderraad se samestelling en pligte geëis.
Veral plaaslike owerhede, het dr. Ngurare gesê, skeep voornemende ontwikkelaars af wat getrou aan die ideale van Swapo is. Hy het voorgestel dat suksesvolle tenderaars gedwing word om minstens tien persent van die waarde van owerheidsprojekte in landelike skole terug te ploeg, terwyl minstens 30 persent van tenders volgens die Jeugliga en NUNW landelike gemeenskappe moet bemagtig.
Oor die voortgesette polemiek rondom die staatsdiens se besluit om met die vul van vakante poste voorkeur aan kinders van voormalige vryheidsvegters te gee, het dr. Ngurare aangevoer dat die meeste van die kinders in die land gebore is.
Kinders wie se ouers swaargekry het onder apartheid is volgens hom deel van die begunstigdes en nie net kinders wat in ballingskap gebore is nie. Luidens dr. Ngurare sal die hele land baat by die bemagtiging van sulke jeugdiges.
Die wanbalans in verkiesingsberiggewing deur die NBC, het hy geredeneer, is die opposisie se eie skuld omdat hulle niks het om tot die nuus by te dra nie. Dr. Ngurare het die nasionale uitsaaier aangeraai om hom nie te steur aan ontledings wat wys dat Swapo op skandalige wyse voorgetrek word nie.
Hy het die oproep herhaal dat nasionale jeugdiens verpligtend vir alle jong Namibiërs behoort te wees.
Volgens dr. Ngurare sal daar nie vrae ontstaan oor sommige lede van die polisie en weermag se lojaliteit as nuwe lede vir die magte net uit jong “patriotte” in die jeugdiens gewerf word nie.
Al het Swapo volgens die Jeugliga en NUNW nog nie behoorlik uiting gegee aan ideale oor die bemagtiging van die jeug en landelike bevolking nie, is daar volgens dr. Ngurare geen kans dat “politieke mislukkelings” wat deel van die opposisie uitmaak, die regerende party se tweederdemeerderheid ooit gaan bedreig nie.
Diegene met dié hoop, is volgens hom dagdromers. Dr. Ngurare het dit as ’n klap in die gesig van gewone lede van Swapo bestempel dat persone wie se lojaliteit onder verdenking is, in vertrouensposisies behou word.
Volgens hom kan die party baie beter mense uit sy “eie kudde” vind. Volgens die Jeugliga en vakbonde is die vrede, stabiliteit en gunstige atmosfeer vir ontwikkeling en versoening wat die land al bykans 20 jaar geniet, suiwer te danke aan Swapo.
|