25.07.2008

Huise aan San-mense oorhandig; jong Amerikaners op besoek

© Verskaf
Twintig huise is in die Ohangwena-streek deur die Adjunkpremier, dr. Libertine Amathila, aan lede van die San-gemeenskap oorhandig.
TWINTIG huise in die Ohangwena- streek is onlangs amptelik deur die Adjunkpremier, dr. Libertine Amathila, aan lede van die San-gemeenskap oorhandig. San- en ander gemeenskappe in die Ohangwena-streek het by die Laerskool Ouholamo in Eenhana vir die oorhandiging bymekaar gekom.

Die huise is gebou met die steun van die Verenigde Nasies Vereniging van die Verenigde State van Amerika (UNA-USA) se HERO-program en in vennootskap met die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco), Acacia Grassroots Ontwikkelingsnetwerk, UN-Habitat en die kantoor van die Adjunkpremier.

HERO is ’n veldtog van die UNA-USA vir die mobilisering van hulpbronne om wees- en kwesbare kinders te ondersteun. Dr. Amathila het by die geleentheid alle vennote wat by die bou van die huise betrokke was, bedank en die nuwe huiseienaars aangespoor om na die huise om te sien. Sy het bygevoeg dat haar kantoor sal voortgaan in sy strewe vir die verbetering van leef toestande vir minderbevoorregte gemeenskappe, veral die Sanmense in Namibië.

Volgens Acacia Grassroots word die lot van San-mense in Namibië nie ernstig genoeg beskou nie. “Dié kwessie word baie min op ons agendas vir plaaslike ontwikkeling gesien. “Ons moet kwessies aanpak wat San-mense en ander minderbevoorregte gemeenskappe raak as ons die Millennium Ontwikkelingsdoelwitte wil bereik.” Intussen het die direkteur van Unesco, dr. Claudia Harvey, gesê gemeenskapsdeelname is belangrik vir huiseienaarskap en die volhoubaarheid van ingrypingsprogramme wat op die gemeenskappe gerig is.

“Die Millennium Ontwikkelingsdoelwitte kan net bereik word deur gesamentlike pogings wat toegang, aanspreeklikheid en volhoubaarheid verseker. Dít is net moontlik deur ge meenskapsdeelname soos wat in hierdie behuisingsinisiatief gesien is.” ‘n Groep Amerikaanse jongmense besoek vir die afgelope drie jaar Namibië en veral die Ohangwena-streek om as vrywilligers by bouterreine te help.

Die afgelope twee jaar help die vrywilligers met die bou van kleuterskole. Die uitruilprogram dra by tot die lewens van die San-mense en skep ’n buitengewone geleentheid vir interkulturele begrip en vriendskap. Die Amerikaanse ambassadeur in Namibië, me. Denise Mathieu, sê die program help jongmense van Amerika en Namibië om hul leierskapvaardighede te ontwikkel en hul bewustheid van die wêreld te verbeter. Die sukses van verlede jaar se uitruilprogram het verseker dat HERO nog geld vir die San-gemeenskap in die Ohangwenastreek kon insamel.