2.03.2010 Vyf in hof oor staatsvoertuie
DIE vermeende misbruik van staatseiendom word deur die Teenkorrupsie Kommissie (ACC) vasgevat met vyf staatsamptenare wat gister in die hof verskyn het nadat hulle verlede Vrydag op heterdaad betrap is terwyl hulle regeringsvoertuie misbruik het.
Simon Geiseb het gister in die Katutura landdroshof in Hof A verskyn en sy saak is tot 26 Mei uitgestel. Die ACC het bevestig dat die ander vier beskuldigdes, Thomas Hishikushitya, Katima Naris, Aron Narib en Abraham Shaende ook in die hof verskyn het.
Hulle is Vrydag in hegtenis geneem en was sedertdien in aanhouding. Daar is op die regeringsvoertuie beslag gelê wat tans by die Katutura polisiestasie geskut word.
Operasies deur die ACC in samewerking met ander wetstoepassers het reeds positiewe gevolge gehad en sal voortduur so lank as wat amptenare openbare eiendom misbruik, lui ’n verklaring van die ACC.
|