24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

7.09.2010

Uitspraak: wye reaksie uit alle oorde

© Republikein
Mnr. Hidipo Hamutenya
VERKOSE lede van die Rally for Democracy and Progress (RDP) en die Republikeinse Party (RP) sal volgende week wanneer die Nasionale Vergadering hervat, hul setels in die land se hoogste wetgewende liggaam inneem.

Die aankondiging is gister deur die president van die RDP, mnr. Hidipo Hamutenya, en die president van die RP, mnr. Henk Mudge, op ’n nuuskonferensie in Windhoek gemaak.

“Ons het aanvanklik aangekondig dat ons nie ons setels sou inneem tot die Hooggeregshof uitspraak in ons appèlsaak gegee het nie. Dit het nou gebeur en nou is ons gereed om ons plekke in te neem,” het mnr. Hamutenya gesê.

Mnr. Hamutenya het die hofuitspraak verwelkom en gesê geregtigheid het geseëvier.

“Te danke aan ons stigtersvaders en moeders wat ons Grondwet geskryf het, het ons land vandag ’n regbank wat onafhanklik is. Die duidelike skeiding van magte is iets waarop ons trots is en vandag kan vier,” het mnr. Hamutenya gesê.

Hy het die hoop uitgespreek dat die regbank sal voortgaan om onafhanklik te wees en uitsprake te gee op grond van meriete en nie op grond van voortrekkery of nepotisme nie.

Die appèluitspraak het volgens mnr. Hamutenya burgers aangemoedig om vertroue in die regstelsel te hê. Hy het ook alle demokratiese magte in die land bedank vir hul ondersteuning tydens die moeilike hofgeding en die opposisiepartye se regspan uitgesonder vir die doeltreffende manier waarop hulle die saak gestel en hard gewerk het welslae te behaal.

Namibiërs wat die hand diep in die sak gesteek het en finansieel bygedra het om die regskoste te betaal, is ook deur mnr. Hamutenya gesalueer.

“Die uitspraak is net die begin van ’n lang reis om uiteindelik by die spilpunt van die kullery met die vorige verkiesings te kom. Dis ook die begin van ernstige hoofbrekens vir diegene wat gekul het, want Namibiërs wil weet wat presies verlede jaar gebeur het.

“Diegene wat gekul het, was van mening dat die nasie nooit sou uitvind wat werklik gebeur het nie. Ons sal vasstaan in die weke en maande wat kom tot ons presies weet wat gebeur het,” het hy bygevoeg.
© Republikein
Mnr. Henk Mudge
Mnr. Mudge het op sy beurt gesê die uitspraak is ’n groot verligting. Hy meen egter die twee Regters wat die aanvanklike hofsaak aangehoor het, is nie geskik om die nuwe verhoor te behartig nie.

“Die mense van Namibië verdien beter as wat hulle tot nou toe gekry het,” het mnr. Mudge gesê.

Kort nadat die hof sy uitspraak gegee het, het die Minister van Presidensiële Sake en Prokureurgeneraal, dr. Albert Kawana, gesê die reg is nie ’n eksakte wetenskap nie en dat die lang uitgerekte saak, eers in die Hoërhof en daarna in die Hooggeregshof, hiervan getuig.

“Namibiërs moet maar net geduldig wees. Ek kan nie voorsien dat hierdie saak volgende jaar afgehandel sal wees nie, miskien eers in 2012.

“Die aanhoor van die meriete van die saak kan lank neem,” het hy gewaarsku.

Mnr. Hamutenya het hierop gesê hy ken die strategie van eindelose vertragings om te voorkom dat die meriete van die saak aangehoor word.

“Die regerende party weet dat die getuienis ’n groot verleentheid vir hulle is. Gevolglik is ’n vertragingstaktiek hul enigste uitweg. Ons sal alles in ons vermoë doen om te verseker dat die saak so gou as moontlik aangehoor word,” het mnr. Hamutenya gesê.
© Republikein
Mnr. McHenry Venaani
Mnr. McHenry Venaani van die DTA sê ’n sloerdery met die saak word beplan om die huidige regering te wettig.

“Ons wil nie in dieselfde bootjie as Nigerië sit waar die volgende verkiesing op hande is, maar die verkiesingsaak nog nie afgehandel is nie.

"Dit is belangrik vir die demokrasie om wortel te skiet dat ons die saak so gou as moontlik afhandel. Indien nie, sal kiesers hul belangstelling in die demokratiese prosesse verloor,” het mnr. Venaani gesê.
© Republikein
Mnr. Tsudao Gurirab
Mnr. Tsudao Gurirab van die CoD het ook die uitspraak verwelkom omdat ’n behoorlike uitspraak in die saak gegrond moet wees op die feite wat voor die hof geplaas word en nie op grond van tegniese versuim nie.

Hy sê die saak raak die wettigheid van die verkiesing van diegene wat verkies is om wette te maak en die land te regeer aan asook die bevoegdheid van die Verkiesingskommissie om verkiesings te bestuur.

“Hierdie saak handel oor die fundamentele vraag of ’n grondwetlike Parlement en Regering geld. Om dié rede is dit noodsaaklik dat die Hoërhof, in belang van geregtigheid en goeie staatsbestuur, so gou as moontlik uitspraak moet gee,” het mnr. Gurirab gesê.
Die direkteur van verkiesings, mnr. Moses Ndjarakana, het op sy beurt gesê die hof het nooit oor die meriete van die saak beslis nie en dat die tyd nou aangebreek het om die ware feite op die tafel te sit.

“Ons respekteer die uitspraak van die Hooggeregshof.

“Ons is egter meer as gereed om ons posisie in die Hoërhof te gaan verdedig,” het hy gesê.