24.5.2012
 Argiewe:

Vandag se Spotprent


Gene Travers

Market indicators


23 Mei 2012

30 Bruidspare gekies


Advertensie
Advertensie

Ons Argiewe

16.02.12

Graf nooit toegegooi

15.02.12

Ongeluk eis bekende in perdrykringe

13.02.12

KK oor vingers getik

14.02.12

Drie fetusse binne ’n week

16.02.12

Kuberkrakers steel miljoene

11.03.2010

Uitspraak voorbehou in Rittersaak

© Republikein
Mnr. Rainer Ritter
DIE Hoërhof-aansoek waarin Namfisa probeer om ’n vonnis teen hom vir ’n betaling van digby die N$1 miljoen aan sy voormalige hoof uitvoerende beampte, mnr. Rainer Ritter, tersyde gestel te kry, het Dinsdag met die aanvang oor ’n tegniese hekkie gestruikel.

Ofskoon Namfisa reeds ’n betaling van N$830 000 aan mnr. Ritter gemaak het, baklei die partye nog oor die uitstaande rente asook die betaling van sy regkoste.

Mnr. Ritter is in Mei 2009 geskors nadat hy ’n konsultant sonder goedkeuring van die raad aangestel het. Die regspanne van beide Namfisa en mnr. Ritter is voor die hofverrigtinge eers na Waarnemende Regter Nate Ndauendapu se kamers ontbied. Dit was om uit te vind of mnr. Ritter enige beswaar daarteen het dat die Waarnemende Regter en die regsadviseur vir Namfisa, mnr. Tamani Ndauendapu, familie van mekaar is.

Nadat mnr. Ritter laat blyk het dat hy volle vertroue in die onafhanklikheid van die regbank het, het adv. Theo Frank, SC, vir mnr. Ritter, beswaar gemaak teen die wyse waarop bykomende stukke deur Namfisa by die hof ingedien is.

Adv. Frank, bygestaan deur adv. Geoffrey Dicks, het aangevoer dat dit nie aan die reëls oor die tyd en volgorde vir indiening voldoen nie. Terselfdertyd is ’n aansoek nie geliasseer om die hof se goedkeuring daarvoor te kry nie. Mnr. Shafimana Ueitele, vir Namfisa, het teruggekap en sy geleerde vriende van litigasie deur hinderlaag beskuldig.

“As eedverklarings, pleitstukke of dokumente nie reg ingedien het nie, is daar maniere om dit te hanteer. Jy wag nie tot jy in die hof is en lê ’n hinderlaag nie,” het hy aangevoer.

Volgens adv. Frank spel hofgesag dit duidelik uit dat ’n party nie sonder meer verdere eedverklarings kan liasseer indien die hof nie toestemming daarvoor gegee het nie. Hy het voorts geargumenteer dat ’n dokument wat as aanhegsel ingedien is oor die Namfisa-raad se besluit om ná die vonnis terug te baklei, nie vergesel is van ’n eedverklaring wat verduidelik waaroor die dokument handel nie.

Adv. Frank het die hof ook daarop gewys dat die prosedure wat die raad gevolg het om dié besluit te neem, naamlik die sogenaamde Robin Rondte, vereis dat die raad eenparig tot die besluit moet instem. Dit was nie geval nie. ’n Robin Rondte vind plaas wanneer die raad nie vir ’n vergadering byeengeroep word nie, maar ’n bepaalde besluit na die individuele lede vir hul toestemming geneem word.

Mnr. Ueitele het geargumenteer dat Namfisa nie ’n korporatiewe instelling is nie, maar ’n statutêre liggaam wat deur ’n wet van die Parlement geskep is, en daarom geld die meerderheidstem as reël.

Die slepende regsgeding spruit uit die gewraakte skikkingsooreenkoms wat tussen mnr. Ritter en Namfisa bereik is nadat hy hangende die dissiplinêre ondersoek geskors is.

Ofskoon ’n skikking tydens die eerste dag van sy verhoor bereik is, is daar ná ingryping deur die Minister van Finansies, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, besluit om met die dissiplinêre verhoor voort te gaan.

Volgens mnr. Ueitele is geen ooreenkoms met mnr. Ritter bereik nie en hy het sy salaris tot einde November toe sy kontak verstryk het, maandeliks ontvang.

Volgens adv. Frank het hy net twee maande se salaris ontvang en was N$700 000 nog aan hom verskuldig toe hy om ’n summiere vonnis teen Namfisa aansoek gedoen het.

Waarnemende Regter Ndauendapu het gister uitspraak voorbehou.