
Dr. Tobie Aupindi (links) en mnr. Richard Metcalfe.
BEIDE die regsverteenwoordigers van dr. Tobie Aupindi en sy medebeskuldigde, mnr. Antonio di Savino, het gister in die landdroshof in Windhoek gevra dat hul kliënte ontslaan word.
Mnr. Richard Metcalfe, Aupindi se regsverteenwoordiger en mnr. Louis du Pisani, wat vir Di Savino verdedig, het gister aan landdros Helvi Shilemba gesê dat daar nie genoegsame bewyse is om met die bedrogsaak voort te gaan nie. Hulle het versoek dat die beskuldigdes vrygespreek word sonder om te getuig. Shilemba het die saak tot Woensdagmiddag 15 Februarie vir haar beslissing uitgestel.
Aupindi en Di Savino staan albei tereg kragtens die wet op korrupsie weens die vermeende verskaffing van vals inligting aan ’n gemagtigde beampte van die Teenkorrupsie Kommissie (ACC). Die alternatiewe klag is ’n poging om die verloop van die gereg te belemmer of te verydel.

Mnr. William Lloyd
Die saak spruit uit beweringe dat Aupindi, die voormalige uitvoerende hoof van Namibia Wildlife Resorts (NWR), voorgegee het dat hy N$50 000 in kontant vir die installasie van ʼn swembad by sy woning betaal het, terwyl Di Savino blykbaar daarvoor betaal het. Di Savino het egter aangevoer dat hy nie vir die swembad betaal het nie.
Die beampte van ACC, mnr. William Lloyd, het gister onder kruisverhoor van Du Pisani met sy antwoorde, veral rakende vermiste dokumente, kleigetrap.
“Ek twyfel nie in jou integriteit nie en ek respekteer jou as ’n gesoute polisie-offisier,” het Du Pisani aan Lloyd gesê, “maar in die saak het jy foute in jou oordeel gemaak”.
Metcalfe het op sy beurt oor Lloyd gesê dat inligting vanaf die joernalis, John Grobler, aan hom opgedwing was en dat Grobler reeds ’n artikel oor die saak gepubliseer het voordat die beskuldigdes aangekla was. Voorts het Du Pisani in sy argument vir ontslag gesê dat die twee beskuldigdes van die begin af deur die ACC as verdagtes beskou is, maar nooit van hul regte ingelig is nie. State is ook nie deeglik deur die ACC ondersoek nie, volgens Du Pisani.
“Die wet vereis van die staat om met bewyse vorendag te kom.”
Metcalfe het in sy argument vir ontslag aangevoer dat daar nie genoegsame bewyse teen die beskuldigdes is nie en dat die getuies ook met geen bewyse vorendag gekom het nie.
Daar is aangevoer dat Aupindi twee kontantbetalings van N$25 000 elk op onderskeidelik 13 en 26 Desember 2006 aan LIC Pools gedoen het. Voorts is die kontantbetalings aan LIC Pools vir Kersfeesbonusse gebruik en nie deur hul rekeningstelsel gevoer nie.
Tydens die kruisverhoor het mnr. Herman Kuhn (broer van die eienaar van LIC Pools, mnr. Michael Kuhn), openlik erken dat die besigheid se dokumente gemanipuleer en fakture verander is, volgens Metcalfe. Voorts is geen beëdigde verklaring van mnr. Michael Kuhn geneem nie.
“Michael Kuhn moes voor die hof verskyn en getuienis gelewer het, maar die staat het hom nooit geroep om te getuig nie,” het Du Pisani gesê.
Die aanklaer, mnr. Arrie Husselman, het aangevoer dat die vraag steeds is of Aupindi die N$50 000 kontant vir die swembad betaal het. “Wie het die kontant in twee paaiemente van N$25 000 elk vir die swembad betaal? As jy kontant betaal, moet jy ten minste ’n kwitansie kan voorsien,” het Husselman gesê. “Ek stem nie saam met die verdediging dat hier nie ’n saak is nie.”
Metcalfe het aan die landdros gesê dat daar ’n fout in Husselman se argument is. “Hy wil hê dat jy die bewyse moet ignoreer. Die wet is die waarheid sonder enige twyfel,” het Metcalfe beklemtoon.